RUCAYDA Wagenaar is die Dysselsdorp Sekondêre Skool (DSS) se toppresteerder van die 2019 matriekklas asook toppresteerder van Kwintiel 1 en 2 binne die Eden Karoo-distrik. Kwintielskole is skole in arm gemeenskappe en Rucayda het ten spyte daarvan puik presteer en ook ’n studiebeurs van R5 000 losgeslaan.
Haar gemiddelde slaagpersentasie was 79.2%: Afrikaans (74%), Engels (74%), wiskundige geletterdheid (76%), lewensoriëntering (84%), besigheid- studies (78%), aardrykskunde (77%) en geskiedenis (92%).
Rucayda het haar skoolloopbaan by die Siembamba Kleuterskool begin. Sy is daarna na PJ Badenhorst Primêr en het haar hoërskoolopleiding aan Dysselsdorp Sekondêr voltooi.
Volgens haar het sy dit nie maklik gehad as kind nie.
“My pa was die enigste broodwinnner in die huis en daar was nie geld vir luukshede nie.
“Soms was daar net droë brood om te eet maar my omstandighede was my dryfveer om ’n verskil te maak in my omstandighede. Ek het hard gewerk om my ouers ’n beter lewe te bied asook ’n rolmodel te wees vir my generasie. My boodskap aan leerders is dat dit nie saak maak wat jou omstandighede is nie. Jy kan as jy glo. Al wat saak maak is hoe jy eindig en nie hoe jy begin het nie.”
Volgens een van die opvoeders, Theresa Rensburg, kan sy en haar mede-kollegas nie uitgepraat raak oor Rucayda se positiewe ingesteldheid teenoor hulle en haar mede-leerders nie.
Sy sê Rucayda was baie hardwerkend en het seker gemaak dat sy al haar doelwitte bereik.
“Ons is voorwaar baie trots op haar en wens haar alle sterkte en voorspoed toe met haar studies,” sê die skoolhoof, Mercia Moses.
Rucayda studeer onderwys aan die Noordwes Universiteit, Potchefstroom. (Deur Garnett Wicomb)