“Bly asb bid vir hom… God is almagtig.” Dit was Sondagaand die versoek van Beadri Eloff, eggenoot van kapt Thinus Eloff wat Saterdagaand ernstig beseer is toe hy by ’n padblokkade naby Willowmore raakgery is.
Beadri het mense ook vir hul gebede bedank.
Thinus, ’n veelmalige tenniskampioen van die Oudtshoorn Tennisklub, geesdriftige fietsryer en polisiekaptein van die Oudtshoorn Honde-eenheid, was saam met ander lede van die Honde-eenheid by die padblokkade op die N9 ontplooi toe die bakkie hom getref het.
Hy is aanvanklik in die hoësorgeenheid in Willowmore opgeneem, maar oorgeplaas na die George Mediclinic waar hy Sondagoggend ‘n noodoperasie ondergaan het. Beide sy bene is na verneem word in die voorval gebreek en hy het ook baie bloed verloor.
Baie mense het na die ongeluk voorbidding gevra vir die polisiebeamptes wat saam met Thinus op die toneel was en Sondagaand moes terugkeer na die toneel toe.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is die 69-jarige bestuurder van die bakkie wat Eloff getref het, op die toneel in hegtenis geneem en onder polisiebewaking na die Willowmore Polisiekantoor geneem nadat hy van pyne in die bors gekla het.
“Voorlopig staar die bestuurder klagtes van roekelose en nalatige bestuur in die gesig,”het Pojie gesê.
Thinus se ma, Johanna, woon ook op Oudtshoorn, Sy pa, Jan, is op 8 Maart 2010 saam met twee ander Oudtshoorniete oorlede toe ’n bakkie ’n groep fietsryers op die Calitzdorp-pad getref het. (Berig deur Liesel le Roux)
2 Comments on "‘Bly asb bid vir hom…’"
Comments are closed.
Sterkte aan Tinus en sy familie. Beaufort-Wes Ons het saam Gholf gespeel.
Dit is vreeslik hartseer. Polisiebeamptes word net altyd sleggemaak, maar hulle sit elje dag hul lewens in gevaar. Hierdie is soortgelyke geval soos die van die polisievrou wat ernstig beseer was buite de Rust 2004-2005(nie seker) toe ‘n dronk bestuurder in die polisie voertuig waarby sy gestaan het vasgejaag het by ‘n ongelukstoneel. Haar en haar gesin se lewens is vir ewig beinvloed, en die dronklap loop lekker rustig buite rond.
My gebede bly met my eks-kollegas… Altyd