Burgemeester bedank

Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, het na verneem word bedank.

Die Hoorn kon dit nie met Sylvester bevestig nie omdat hy glo in ’n vergadering was toe Die Hoorn hom gekontak het.

Volgens Jaco Londt, streeksekretaris van die DA, kan hy bevestig dat Sylvester tydens sy interne tugverhoor van die DA se Federale Raad aangedui het dat hy gaan bedank.

“Daar was verskeie klagtes hangende teen hom en dit is ons sterk vermoede dat hy gespring het nadat hy skuldig bevind is hierop, maar voor sanksie opgelê kon word. Die DA het vir maande al probeer om die saak af te handel, met mnr Sylvester wat telkemale probeer uitstel het.”

“Ons glo van harte dit is die beste vir die Groter Oudtshoorn en sien uit na vernuwing en verandering,” het Londt gesê.