OUDTSHOORN sal vanjaar weer eens gasheer speel vir die Suid-Afrikaanse Padfiets-, Tydtoets- en Kriteriumkampioenskap!
Hierdie aankondiging is reeds verlede jaar in Oktober deur Fietsry Suid-Afrika gemaak, en dit sal die vyfde keer wees dat hierdie nasionale fiets-ren op die dorp aangebied word!
Volgens Corné Bence, voorsitter van die Wes-Kaap Fietsryvereniging en inwoner van die dorp, is dit ’n groot eer en sien die organiseerders uit daarna om fietsryers, gaste, en belangstellendes van regoor die land hier te verwelkom.
Die kampioenskap sal van 8 tot 12 Februarie aangebied word. Die kriteriumwedren sal Woensdag, 8 Februarie plaasvind.
Die tydtoets self sal die dag daarna, Donderdag, plaasvind met beide ’n 15 km- en 20 km-roete. Op Vrydag sal ’n 28 km-roete gevolg word.
Die padfietswedren, wat elke jaar vir groot opwinding sorg en verlede jaar vir aksie uit die boonste rakke in die Bridgton-gemeenskap verantwoordelik was, sal op Saterdag en Sondag plaasvind.
Fietsryers van heinde en verre woon hierdie kampioenskap by en bring nie net hul spanbestuurders saam nie, maar hul families ook. Die dorp sal propvol wees.
Volgens Bence is hierdie byeenkoms een van die mees gesogte van sy soort op die SA fietsrykalender. “Hier gaan elite fietsryers van regoor die wêreld hier wees, selfs ouens wat die Tour de France gery het. Ons verwag tussen 3 000 en 5 000 mense wat na Oudtshoorn toe sal kom. Daar gaan Woensdag ook ’n ontwikkelingswedren by Aurial Kollege wees, wat fietsry na die gemeenskap bring,” sê hy. (Deur Stefan Skapie Goosen)
2023 SA Padfietskampioenskap in Feb op Oudtshoorn
’n Toneel uit 2022 se Suid-Afrikaanse Jeug Padfietskampioenskappe wat in Bridgton op Oudtshoorn plaasgevind het in Maart.
Foto: Stefan Skapie Goosen