ONTMOET Die Hoorn se Heinrich Bosman.
Heinrich is vir die afgelope ses jaar Die Hoorn se staatmaker en sorg dat alles hier klopdisselboom loop.
Heinrich is nie net ons kantoor bestuurder nie, maar ons IT guru.
Hy bestuur al die finansies en sorg dat ons kliënte hul fakture ontvang.
Hy is ook die man wat sekermaak almal word betyds betaal, basies is hy die hartklop van die koerant.
Op Woensdae werk hy net so hard soos die res om spel en taalfoute uit te snuffel, dat die dam- en weerstatistieke reg is en stuur elke blad noukeurig deur na die drukkers.
Op Donderdae organiseer hy die koerantverkopers, en lewer ook self koerante by die winkels in die Queen’s Mall af.
Die wat na die NG Moedergemeente gaan sal hom herken as die man agter die klankbord.
Daar is hy verantwoordelik vir die klank, die skerms en ook die lewendige uitsending elke Sondag op Facebook.
Hy is ook die tesourier van AfriForum se Oudtshoorn-tak en woon gereeld namens die organisasie vergaderings by die Oudtshoorn Munisipaliteit by.
Hy is mal oor rekenaars, en om enige rekenaars se binnegoed op te gradeer en reg te maak.
Heinrich het in die Kaap grootgeword en by Stellenbosch gaan studeer. Hy het daarna by die maatskappy Denel gaan werk waar hy produk kosteberekening gedoen het. Daarna het hy ’n draai in Saldanha, Mosselbaai en weer in Saldanha gemaak voor hy hom gevestig het op Oudtshoorn.
Hier bly hy al vir meer as sewe jaar in ’n pragtige ou huis van na raming so 140 jaar oud.
Hy en sy wederhelfte, Amada is reeds vir 28 jaar getroud en die liefde staan nog sterk.
Heinrich en sy vrou het een kattekind, Chloe, wat absoluut die huis en haar mens-slawe regeer.
Hys nie juis lief vir lees nie, maar dis seker omdat hy heeldag en aldag moet lees en met syfers werk.
Sy gunsteling reekse waarna hy tans kyk is NCIS, 911 en Chicago Fire, wanneer hy wel tyd kry om bietjie te ontspan.
Sy gunsteling is ’n lekker koppie koffie en ’n sny tuisgemaakte boere melktert met ’n outydse skilferkors.
Aangename Kennis
Heinrich Bosman