806 nuwe soldate

Van die 806 rekrute wat Vrydag op Oudtshoorn uitgepasseer het. Foto Garnett Wicomb

Gnl Solly Zacharia Shoke Vrydag op Oudtshoorn.  Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
“VAN vandag af is julle soldate. Wees trots daarop en maak die Suid Afrikaanse Weermag trots.”

So het die hoof van die SANW, gnl Solly Zacharia Shoke, Vrydag by die Infanterieskool op Oudtshoorn aan die 806 rekrute gesê met hul uitpassering na die voltooiing van hul basiese opleiding van sowat vyf maande.

“Dissipline en nogmaals dissipline is die belangrikste vereiste vir ’n ware soldaat en ononderhandelbaar. Saam daarmee kom dapperheid, patriotisme en toewyding,” het die gene raal gesê.

“Sonder dissipline is daar vir jou geen toekoms in die weermag nie.”

Hy het die nuwe soldate sterkte toegewens met hul loopbane in die SANW, en gesê die basiese opleiding wat hulle pas voltooi het, is net die eerste stap.

“Jy kan nie nou dink dat jy minder gedissiplineerd kan wees nie.

“Jou toekoms is in jou eie hande en jy moet die geleenthede wat die weermag bied met albei hande aangryp.

“Julle is nou soldate en vandag is die eerste stap van ’n lang reis.”
Shoke het ’n beroep op die nuwe soldate gedoen om uit te gaan en ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe te maak.

Volgens die generaal moet daar ’n duidelike verskil wees tusssen ’n soldaat en ’n gewone burger van die land.

“As Suid-Afrikaners kan ons nie bekostig dat mense skole en klinieke afbrand en nog diens verwag nie.”

Honderde familie en vriende het die indrukwekkende uitpasseringsparade op die Infanterieskool se sportterrein bygewoon. Shoke het die inwoners van Oudtshoorn en die munisipaliteit namens die weermag bedank vir hul samewerking en lojaliteit teenoor die Infanterieskool.

“Die Weermag kan net suksesvol wees as ons almal hande vat en mekaar ondersteun,” het Shoke gesê.