Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n Nigeriër en ’n vrou van Zimbabwe wat met tik en kokaien van meer as R22 miljoen in hul besit in hegtenis geneem is, is Maandag in die Oudtshoorn streekhof vir verdere verhoor uitgestel omdat hul regsverteenwoordiger nie by die hof kon wees nie.
Hillary Anyaneto en Lorraine Mwandicitiva staan tereg op klagtes van handeldryf in en besit van dwelms.
Die saak is by ’n vorige geleentheid uitgestel omdat ’n Igbo-sprekende tolk vir Anyaneto, nie betyds by die hof kon kom nie. Igbo is die inheemse taal van die Igbo-bevolking, van ’n etniese groep van Suidoos-Nigerië.
Staatsaanklaer Willem Vister het die hof gister meegedeel dat die twee se regsverteenwoordiger, Adv Montana, hom die keer versoek het om uitstel te versoek en die hof ’n lasbrief vir Anyaneto, wat ook afwesig was, oorhou tot die volgende hofdatum.
Streeklanddros Daniel Boks het die saak vir verhoor op 8 en 9 Julie 2019 uitgestel.
Anyaneto is op borg van R20 000 terwyl Mwandicitiva in aanhouding bly.