Mosie van wantroue sal dien, beloof speaker

Deur Garnett Wicomb
’N Mosie van wantroue in haar sal nog dien.

Die versekering is Maandag tydens ’n spesiale raadsvergadering van die Oudtshoorn Munisipaliteit deur die speaker, raadslid Julia le Roux aan raadslid Vlancio Donson van Icosa gegee.

Donson wou met die aanvang van die vergadering van die speaker weet wanneer die mosie, wat reeds ge­ruime tyd gelede ingedien is, ter tafel gelê sal word

Le Roux het hierna gesê dat dit by die volgende algemene raadsvergadering sal dien, maar nie ’n datum daarvoor gegee nie.

Donson het Le Roux tydens die vergadering daarvan beskuldig dat sy sedert verlede jaar al baie beloftes gemaak het wat sy nooit nagekom het nie.

Volgens hom oortree sy die munisipale ordereëls en is hy ’n “spesialis” wanneer dit by munisipale ordereëls kom.

“Die DA moenie kla wanneer ons weer aan bewind kom en ook doen wat hulle nou doen nie,” het hy gesê.

Donson wou ook van die speaker weet of die komende begrotingsvergadering ’n spesiale of algemene raadsvergadering sal wees.

Hy het daarna die munisipale bestuurder, Allen Paulse, gevra om prosedures ten opsigte van die in-
die­ning en hantering van mosies aan die raad te verduidelik.

Volgens Paulse bepaal die speaker die agenda van spesiale raadsvergaderings.