Deur Garnett Wicomb
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het Maandag tydens ’n spesiale raadsvergadering eenparig besluit om ’n dringende versoek aan Eskom te rig vir die elektrifisering van alle informele nedersettings in die Groter Oudtshoorn.
Die voorstel deur burgemeester Colan Sylvester dat Eskom versoek word om elektrisiteitsaansluitings te voorsien vir alle huishoudings in Volmoed, Blomnek, Mullersbank, Dysselsdorp asook alle informele nedersettings in Oudtshoorn, soos Black Joint in Bongolethu, is deur raadslid Vlancio Donson (Icosa) gesekondeer en eenparig deur die raad aanvaar.
Die nood vir die elektrifisering van informele nedersettings het veral tydens die onlangse imbizo’s van die munisipaliteit sterk na vore gekom, lui ’n skrywe van die munisipale bestuurder, Allen Paulse, aan Eskom.