Kuns- en Vlooimark vir Oudtshoorn

Susan Terblanche, sekretaresse, Kobus Minnie, voorsitter, Booi Nace, ondervoorsitter, en Flippie Bezuidenhout, organiseerder en kompetisieborg.

Maandagaand, 3 Junie, het ’n hele paar opgewon­de Oudtshoorniete saamgekom vir hul eerste vergadering aangaande ’n maandelikse vlooimark in Oudtshoorn.

Die geselligheid het afgeskop by die Headlines Restaurant in Baron van Reedestraat. Kobus Minnie, wat die bal aan die rol gesit het, en Flippie Bezuidenhout van National Auto Glass het die vergadering geopen en gelei. Al die betrokke persone was verheug oor die samekoms en gre­tig om te begin. Die atmosfeer het gespreek van die behoefte wat daar was vir so ’n mark in ons dorp.

By die geleentheid is ’n voorsitter, ondervoorsitter en sekretaresse gekies wat sake sal lei in die toekoms en die leisels sal vat. Hulle is Kobus Minnie (voorsitter), Booi Nace (ondervoorsitter en Susan Terblanche (sekretaresse).

Die mark sal een keer per maand aangebied word en vir inwoners en besoekers ’n aangename dag bied met ’n groot verskeidenheid plaaslike produkte. Daar sal iets vir almal wees – volwas­se­­nes en kinders: hekel-, houtsny- en houtkerf­werk, vetplante, sementpotte, geskenkboksies, rame, bottels, glaswerk, kunswerke, onderklere, handgeverfde artikels, speserye, konfyt, sterk souse, oudhede, biltonghappies, erdwurmprojek­te, kompos, plante, krale, omgewingsvriendelike gif, kunsopleiding, beeldhouwerk, naaldwerk, Ara­biese oasis, dennehoutkassies, juwele en ver­skeie kosstalletjies met soet en sout!

Die Vlooimark sal vroeg in die lente rondom September / Oktober afskop en die perseel sal in die plaaslike koerante aangekondig word. Die publiek word uitgenooi om deel te neem aan die gesellige en veelkleurige geleentheid en ook betrokke te raak by die lekker toevoeging vir Oudtshoorn in die Klein Karoo.

Belangstellendes wat betrokke wil raak, kan Kobus Minnie gerus kontak by 0837815210.
Kompetisie: Die vlooimark soek tans ’n gepaste naam en logo! National Auto Glass in samewerking met Xpanda Sekuriteit en Headlines Restaurant gee pryse weg ter waarde van R3 000 vir die sukses­volle inskrywing! Die sluitingsdatum is 31 Julie.

E-pos voorstelle na nagorders @gmail.com
• Dié berig is geborg deur National Auto