Goeie waternuus vir De Rust en Dysselsdorp
Deur Liesel le Roux
DE RUST se dralende waterkrisis van die afgelope jare behoort teen einde September vanjaar opgelos te wees met die wiele wat binnekort begin rol om die dorp met die Klein Karoo Landelike Waterskema (KKLWS) te verbind.
Die dorp sal daarna nie meer van die Huisrivier en die problematiese waterverbindings met die Huisrivier vir water afhanklik wees nie.
Johan Fourie, raadslid van die Groter Oudtshoorn belas met tegniese dienste, sê De Rust sal met die Nelsrivier-pompstasie, wat deel uitmaak van die KKLWVS en 4,5 km van De Rust geleë is, verbind word.
Tenders hiervoor sal in Februarie aangevra word met die werk daaraan wat einde Julie afgehandel behoort te wees.
“Dit sal ook meebring dat inwoners van De Rust en Blomnek voortaan gesuiwerde water kry,” sê Fourie.
Dié projek sal R6,5 miljoen kos.
Fourie sê dié inisiatief is moontlik omdat suksesvolle drukverlaging in Dysseldorp toegepas is wat veroorsaak dat pypbarste daar omtrent nie meer voorkom nie en die KKLWVS nou ’n surplus water het.
Drie nuwe boorgate wat verlede jaar gesink is en wat goeie water vir die skema kan voorsien, sal ook vanjaar in bedryf gestel word. “Tenders vir die toerusting van die boorgate is reeds geadverteer en het al gesluit.”
“Effektiewe waterbestuur is baie belangrik,” sê Fourie. “Effektiewe waterbestuur die laaste sowat twee weke het byvoorbeeld daartoe gelei dat die hele De Rust van water voorsien kon word, ten spyte van die warm en droë toestande en die lae lewering van die Huisrivierbron.”
Fourie sê daar is ook planne op die tafel vir nog ’n waterbron wat in die toekoms vir Dysselsdorp van water kan voorsien.
“Die munisipaliteit het reeds aansoek gedoen vir befondsing om water direk vanaf die Rust en Vrede Waterval aan Dysselsdorp te voorsien. Indien dit realiseer, sal dit baie vir watersekerheid in die munisipaliteit beteken.”
Hy sê ’n pos vir ’n ingenieurstegnikus vir Dysseldorp en De Rust sal ook binnekort geadverteer word. Die tegnikus sal op De Rust gesetel wees. “Dit is noodsaaklik vir die onderhoud dat iemand met die nodige kennis dié water beheer. Die tegnikus sal ook kyk na die riool, strate en stormwater van De Rust en Dysseldorp.”
Fourie sê ’n deeglike ondersoek van watermeters in De Rust en Blomnek is gedoen waartydens ’n geweldige waterverlies in De Rust – veral in die dorpsgebied – gevind is.
“Daar sal eersdaags met ’n volledige oudit en vervanging van watermeters begin word om die bronne van die waterverlies te bepaal en te beperk.”