Deur Garnett Wicomb
PRESTON TITUS is ten minste 27 keer met messe gesteek en met ’n hamer geslaan terwyl sy jongste dogter in die huis was.
So het die staatsaanklaer, adv John Ryneveldt, Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof gesê in die borgaansoek van een van die vermeende moordenaars van Titus (47), wie se bebloede lyk op Saterdag 2 Desember 2017 in sy huis in die Weer- magbasis op Oudtshoorn gevind is.
Die borgaansoek van Justice Mooi (30) van Port Elizabeth is vir uitspraak deur landdros Roelf Konstabel tot Maandag 29 Januarie uitgestel.
Die staat vra dat borgtog geweier word weens die erns van die moordklagte teen Mooi waarvoor hy lewenslange gevangenisstraf opgelê kan word.
Volgens Ryneveldt was dit ’n wrede voorafbeplande moord en is dit in belang van geregtigheid om borgtog te weier. “ ’n Pa van twee jong dogters is in sy eie huis wreed vermoor terwyl sy jongste dogter in die huis was,” het Ryneveldt gesê.
Volgens hom het die staat ’n baie sterk saak. “Dit was moord met voorbedagte rade warin messe en ’n hamer, waarvan ’n gedeelte van die punt afgebreek het, gebruik is.”
Mooi het sy medebeskuldigde, Sixabiso Klip wat reeds na ’n pleitooreenkoms met die staat tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is, ook glo gedreig dat hy hom sal toor en hy moontlik kan vlug.
Sy regshulpprokureur, Eugene Roos, het die hof gevra om wel borgtog toe te staan omdat geen getuienis voor die hof gebring is dat Mooi met staatsgetuies sal inmeng nie, en daar vrae hang oor die toelaatbaarheid van Klip se pleitooreenkoms met die staat. Hy het ook gesê daar is nie bystand aan Mooi verleen om regsverteenwoordiging te kry met sy aankoms in Oudtshoorn na sy inhegtenisneming in Port Elizabeth nie. Hy is glo verseker dat hy borgtog sal kry indien hy net sy samewerking gee. Hy was ook baie moeg terwyl hy ondervra is deur verskeie polisiebeamptes.
Roos voer verder aan dat sy kliënt nie ’n vrywillige beëdigde verklaring afgelê het nie en die gevolge daarvan nie aan hom verduidelik is nie.