R500-borg vir man wat glo oor inwoner ry

Deur Garnett Wicomb
BORGTOG van R500 is Maandag in die Oudts­hoorn Landdroshof toegestaan aan ’n man wat daarvan aangekla word dat hy glo verskeie kere oor ’n bekende inwoner van Bridgton, Ricardo (Carty) Fourie (43), sou gery het.

Fourie, ’n pa van ses kinders, het later in die Grootte Schuur Hospitaal in Kaapstad aan sy beserings beswyk.

Die voorval het op 5 Januarie in Swa­wellaan, Bridgton, plaasgevind en John Donson (37) is op Sondag 7 Januarie op ’n klagte van poging tot moord in heg­te­nis geneem. Die klagte kan volgens die klagstaat na moord verander word.

Landdros Lorraine Samuels het borg­tog aan Donson toegestaan op voorwaar­de dat hy nie van woonadres verander sonder die medewete van die ondersoekbeampte nie, nie by enige verdere misdaad betrokke raak nie en gereeld vir sy hofverskynings na die hof kom. Hy is gewaarsku dat indien hy enige van die voorwaardes verbreek hy in hegtenis geneem sal word, in aanhouding sal bly totdat die saak afgehandel is en sy borggeld aan die staat verbeurd verklaar sal word.

Die saak kom weer op 26 Februarie voor.