Watersituasie is ‘kommerwekkend’

Die munisipale bestuurder van Prins Albert, Heinrich Mettler, by ’n onlangse vergadering oor die Prins Albert-watersituasie waartydens hy inwoners ingelig het. Foto: Barry Lamprecht
Deur Marlene Malan
Prins Albert se watersituasie is steeds kritiek, ondanks die onlangse reën. Die dorp se wateropbergingskapasiteit is beperk en is “ver vanuit die moeilikheid”.
So sê die munisipale bestuurder, Heinrich Mettler. Volgens hom bly die waterbesparingsmaatreëls van onder meer 90 liter per persoon per dag sowel as die waterafsluiting snags steeds van krag “sodat ons sonder voorval deur die volgende twee warm maande kan kom”.
Prins Albert Toerisme het die afgelope week ’n e-pos aan inwoners gestuur met ernstige vermanings en wenke oor waterverbruik en -besparing, omdat die watersituasie “kommerwekkend” is. Een rede vir die dorp se waterprobleme is die groot getal besoekers wat die dorp in die vakansie besoek het.
Mettler het aan Die Hoorn gesê die dorp, waar streng waterbeperkings sedert Desember geld, “is steeds in ’n krisis. Die bietjie reën in Januarie het baie gehelp, en het daartoe bygedra dat ons grondwater ’n bietjie opgebou het. Ons is egter nog ver van uit die moeilikheid uit.
“Waterverbruik moet beperk word sodat ons genoegsame water kan opberg. Maandag se hitte was ’n aanduiding van ’n moontlike warm tweede helfte vir Februarie en vir Maart. Ons het nie ’n dam stroomop nie, en ons kan net 45 uur se water opberg as ons damme vol is en vol bly.
In Januarie het sowat 45 mm reën geval, wat ’n welkome verligting gebring het vir verdorde tuine, asook vir weiding op plase. Die gebied tussen Prins Albert en die N1, wat tot onlangs woestynagtig begin lyk het, het baie meer groenigheid.
Boere met wie Die Hoorn gepraat het, sê egter die reën was geensins genoeg om die droogte te breek nie. Die hele gebied rondom Prins Albert, in ’n noordelike rigting, is sowat twee jaar gelede as ’n droogterampgebied verklaar.