So lyk watersituasie in huidige krisis

Woede oor Prins Albert se waterbestuur

Jan Nel en Stephan Manuel herstel 'n boorgat en pomp in die Swartberg, naby Eerstewater. Dis in April verlede jaar in 'n flitsvloed in die berg beskadig.                  Foto: Marlene Malan

Jan Nel en Stephan Manuel herstel ‘n boorgat en pomp in die Swartberg, naby Eerstewater. Dis in April verlede jaar in ‘n flitsvloed in die berg beskadig. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
PROVINSIALE gebeurlikheidsplanne oor die benarde watersituasie is vir die hele provinsie – en spesifiek die warm, droë Karoo – in plek en word daagliks deur die provinsiale rampbestuursentrum hersien om te keer dat enige gemeenskap sonder water sal wees. Die provinsie het ook ses hidroloë aangewys om die watervlak en -beskikbaarheid van water regoor die provinsie te moniteer. Een van hulle werk spesifiek in die Sentraal-Karoo.

Só sê die kantoor van die minister van plaaslike bestuur, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell.
Die Hoorn het navrae aan Bredell se kantoor gerig weens die woede wat onder Prins Albert se inwoners aan’t opbou is oor die bedenklike watersituasie op die dorp.

Hoewel dié gewilde toerismedorp onder een van die ergste droogtes die afgelope eeu gebuk gaan, was dit die soveelste Kers- en Nuwejaarsvakan­sietyd dat die dorp se krane óf opgedroog, óf net ’n straaltjie gelewer het, óf die water troebel en modderig was.

’n Klein spannetjie munisipale waterwerkers werk feitlik dag en nag om die watertoevloei in dié droogteramptyd vol te hou, maar inwoners raak al hoe ongelukkiger oor die bestuur van watertoevoer en watergehalte.

Vlak 1-waterbeperkings geld reeds die afgelope maande op Prins Albert. Die hele dorp is egter tien dae gelede uit die bloute ingelig dat die situasie só benard is dat hulle hoogstens 90 liter per persoon per dag (pppd) mag gebruik – tuinbesproeiing ingesluit. Inwoners is aangesê om watermisbruik aan te meld en die munisipaliteit dreig om wangebruikers voor die hof te daag.

Die splinternuwe dorpswembad wat einde November geopen is en wat ’n kapasiteit van sowat 1,3 megaliter het, word nie langer hervul nie en gaan gesluit word indien die watervlak verder daal. ’n Waterpomp in die Swartberg wat sedert die flitsvloed in April 2017 stukkend was, is verlede week eers herstel, en die Kweekvallei-waterraad staan leibeurte uit die dorpswatervoor aan die munisipaliteit af.

Die afgelope week het die munisipaliteit die waterverbruik van twee dorpswoonbuurte teenoor mekaar afgespeel, maar vinnig teruggekrabbel ná protes oor die “onwetenskaplikheid” daarvan.

Volgens ’n omsendboodskap op sosiale media en wyke se WhatsApp-groepe gebruik die woonbuurt Noordeinde 85 liter pppd en “Suideinde” (noemnaam vir die middedorp en omliggende woonbuurte) 293 liter pppd.

Dit het die boodskap uitgestuur dat Suideinde water mors en inwoners dat hul nie aan die erns­tige beperkings steur nie. Eers nadat inwoners die munisipaliteit daarop gewys het dat talle inwoners van Noordeinde bedags in Suideinde of op plase werk, dat Suideinde die dorp se ekonomiese slag­aar is, en dat groot instellings en werkverskaffers soos die hospitaal, kliniek, hoërskool, gevangenis, tehuis vir bejaardes, winkels en gastehuise, hotel en restaurante hier geleë is, het die munisipaliteit toegegee so ’n vergelyking is onvanpas.

By navraag het James-Brent Styan, Bredell se woordvoerder, gesê die instroming van besoekers vanaf middel Desember, asook hoë temperature, het watergebruik in Prins Albert laat toeneem van gemiddeld 800 000 liter per dag tot sowat 2 miljoen liter per dag.

“Dit het geweldig druk op die stelsel geplaas en het veroorsaak dat die dorpsreservoir verlede week op ’n dag binne twee ure sou leegloop. Mense is dus gemaan om minder water te gebruik om die reservoir toe te laat om deur middel van boorgate te herstel.”

Volgens hom het die departement plaaslike regering ses hidroloë vir die provinsie aangewys om grondwatervlakke te moniteer. “Een is vir die Sentraal-Karoo afgevaardig. Dié werk duur voort.”

Oor die swembad van half-Olimpiese grootte het Styan gesê hy bevestig dat dit nie verder aangevul word nie weens die stand van sake. “Gebeurlikheidsplanne is in plek vir die hele provinsie en word bestuur deur die provinsiale rampbestuursentrum. Dié planne is daarop gemik om te verseker dat géén gemeenskap sonder water sal wees nie. Die planne word byna daagliks hersien.”

Styan sê die instroming van besoekers na die Wes-Kaap lei tot skerp toenames in watergebruik regoor die provinsie.
“Dis jaarliks die geval. Ons sien gemeenskappe wat tot vier- en vyfvoudig groei in die vakansietyd. Dit plaas druk op ons waterbronne. Daarom vra ons gemeenskappe én besoekers herhaaldelik om water so spaarsamig moontlik te gebruik en om lekkasies onmiddellik aan te meld.”