Deur Garnett Wicomb
’N 18-JARIGE jong man van Dysselsdorp wat ’n bejaarde man in sy huis met ’n klip teen die kop gekap en van R180 beroof het, is in die Oudtshoorn Streekhof aan verswarende roof skuldig bevind, ’n opgeskorte vonnis opgelê en onder huisarres geplaas.
Marcelino Loverlot wat nie ’n eerste oortreder is nie, is deur streeklanddros Daniel Boks vyf jaar gevangenisstraf opgelê wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Hy het Isak Campher (73) wat in dieselfde straat as hy woon, beroof.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof versoek om ’n boodskap uit te stuur dat 18-jariges ook tronk toe kan gaan. “Direkte gevangenisstraf is die enigste gepaste vonnis vir die misdaad,” het sy gesê.
Volgens haar is roof ’n misdaad wat te algemeen voorkom.
Gelukkig vir Loverlot het sy slagoffer nie ernstige beserings opgedoen nie.
Die landdros het met vonnisopleging gesê Loverlot was van vroeg in sy lewe by misdaad betrokke.
“Êrens moet daar ’n punt kom, ’n einde,” het die landdros gesê en bygevoeg dat Loverlot nie eerlik en opreg in sy getuienis was nie.
“Daar bestaan ’n wanpersepsie dat minderjariges nie gevangenisstraf kan kry nie en die hof is gedagtig aan die Kindergeregtigheidswet.”
Loverlot is gelas om Campher se R180 aan hom terug te gee.
Hy is ook ingevolge Art 276 (1) (h) tot korrektiewe toesig gevonnis wat huisarres vir 24 uur per dag behels, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes en dat hy vir 16 uur per maand gratis gemeenskapsdiens lewer.
Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms.