Deur Liesel le Roux
LEERDERS wat betrokke was by ’n bakleiery verlede Woensdagmiddag op die skoolterrein van die Hoërskool Oudtshoorn is geskors hangende ’n tugverhoor, sê Jessica Shelver, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).
“Die skoolbeheerliggaam het Vrydag (26 April) vergader om oor die voorval te besin. Die betrokke leer-ders mag nie tans aan na-skoolse of buitemuurse aktiwiteite deelneem nie,” het sy gesê.
Volgens Shelver ondersoek die WKOD die voorval wat op 24 April om 14:00 plaasgevind het, maar sal verdere inligting eers ná afloop van die tugverhoor bekend gemaak word.
Shelver het nie aangedui wanneer die tugverhoor plaasvind nie.
Die bakleiery is verlede Woensdag deur verskeie omstanders met hul selfone afgeneem en op sosiale media versprei, waarna die ontvangers voortgegaan het om dit verder te versprei.
Die Hoorn is van minstens drie sulke selfoonvideos bewus.
Die Oudtshoorn Polisie ondersoek terselfdertyd vier aanrandingsake nadat klagtes na aanleiding van die bakleiery by die Polisie ingedien is.
Die waarnemende skoolhoof van die Hoërskool Oudtshoorn, Gerhard Rudolph, het Vrydag Die Hoorn vir navrae na die WKOD verwys.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die ondersoek in ’n gevorderde stadium en is daar persone wat gewaar-sku gaan word om op 7 Mei in die Oudtshoorn Landdroshof te verskyn.
• Kommentaar:
Hierdie voorval by die Hoërskool Oudtshoorn is nie die eerste by ’n skool in die land (en wêreldwyd) waar aggressiewe optrede deur minderjariges deur omstanders verfilm en versprei word nie.
Hoewel die optrede van die leer-ders in die videos nie goedgepraat kan word nie, en hopelik deeglik en deursigtig ondersoek sal word met die nodige straf waar nodig, wil ons waarsku teen diegene wat van die kantlyn af veroordeel.
Moenie ’n skool of sy leerders veroordeel oor die oordeelsfoute van enkelinge nie, veral nie as ons nie volkome ingelig is oor omstandighede nie. In 2007 het Langenhoven Gimnasium deur ’n soortgelyke moeilike tyd gegaan toe ’n video van ’n voorval tussen twee leerders in ’n klaskamer versprei is.
Laat ons almal eerder saamwerk om deel te word van die oplossing in ons land en nie verdelende uitsprake lewer nie.
Oudtshoorn is werklik bevoorreg om uitstekende skole te hê waar die dorp se kinders onderrig word.
Laat ons as gemeenskap eerder ons skole en mekaar ondersteun en bystaan.
– Liesel le Roux