Yolande de Villiers, Oudtshoorniet en een van Suid-Afrika se voorste bergfietsryers, Sondag saam met haar spanmaat. Neill Ungerer, in die derde en finale fase van die Trek2Teebus-bergfietswedren in die Karoo waartydens sy dié dag in ’n botsing teen ysterrelings haar been gebreek het. De Villiers en Ungerer was tot voor die ongeluk die voorlopers in die wedren. Foto: www.oakpics.com
Deur Angelique Erasmus
OUDTSHOORN se kampioen-bergfietsryer, Yolande de Villiers, is gister in ’n privaathospitaal in Queenstown geopereer nadat sy Sondag haar been sleg gebreek het tydens die Build It Trek2Teebus-bergfietswedren in die Steynsburg-omgewing in die Karoo.
De Villiers en haar spanmaat, Neill Ungerer,was op die derde dag van dié wedren die voorlopers in die gemengde afdeling toe sy by ’n draai teen ysterrelings vasgery het. Hulle het beide die eerste fase die Vrydag en die tweede fase die Saterdag gewen.
Volgens Rohan Germishuys, direkteur van Petricor Adventures wat die wedren aangebied het, sou De Villiers en Ungerer verseker die wenners van die afdeling gewees het as die botsing nie plaasgevind het nie.
“Die ongeluk het gebeur na ’n afdraand op die dienspad van die Oranje-Vistonnel waar ryers ’n U-draai maak.
“Yolande kon ongelukkig nie betyds stop en draai nie en het in ysterrelings vasgery,” het hy aan Die Hoorn gesê.
Volgens Germishuys was nooddienspersoneel binne 10 minute op die toneel en het hulle De Villiers gestabiliseer en per ambulans na die Steynsburg Hospitaal geneem. Van daar is sy later na ’n hospitaal in Queenstown oorgeplaas.
De Villiers se eggenoot, Henties, het Dinsdag telefonies aan Die Hoorn bevestig dat haar linkerbeen gebreek is.
“Sy was Maandag al in die teater en word Woensdag geopereer.
“Ons hoop maar die besering sal eenhonderd persent herstel. Dit was maar net ’n fratsongeluk,” het hy Dinsdag gesê.
Volgens Henties het die organiseerders na die ongeluk nie toegelaat dat die res van die deelnemers die gedeelte van die roete ry nie as gevolg van die gevaar daaraan verbonde.
• Uit haar Facebook-inskrywings blyk dit dat De Villiers dié wedren terdeë geniet het. “So ’n ongelooflike roete,” skryf sy die naweek. En ook: “Behoorlike bergfietsry in die Groot Karoo met baie wit-kneukel-afdraandes en opdraandes wat die bene laat brand en oë laat rek, veral die Bulhoekpas.”