Prys vir omgewingsvriendelikheid

Debbie Schäfer (naaslinks), Wes-Kaapse minister van onderwys, het Dinsdagoggend die landbou-afdeling van die Hoërskool Calitzdorp besoek. By haar is van links Debbie Calitzdorp, adjunkhoof van die skool, Andrew Davids, skoolhoof, en Gerrit Huysamen, vakhoof van die landbou-afdeling. Links onder wys Huysamen vir Schäfer en die ander besoekers een van die groentetonnels en regs onder is die besoekers by die skool se bokke. Foto’s: Schalk le Roux

Deur Schalk le Roux
DIE Hoërskool Calitzdorp is ’n “wonderlike skool met wonderlike mense wat baie interessante en belangrike dinge doen”, het die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, Dinsdag gesê met haar besoek aan die skool se landbou-afdeling.

Tydens haar besoek het onder andere die skoolhoof, Andrew Davids, en die landbouvakhoof, Gerrit Huysamen, vir Schäfer die skool se landbouklaskamer, werkswinkel, groentetonnels en angora-veselbokkudde gewys.

Schäfer het gesê sy is baie beïndruk wat in so ’n kort tydjie reeds met die landbouafdeling vermag is.
“Die leerders leer baie belangrike vaardighede hier aan. Landbou is baie belangrik in ons land. en daar is ’n groot behoefte aan landboukundigheid.

“Dit is ook wonderlik dat die skool omgewingvriendelike praktyke beoefen soos sy sonpanele wat hernieubare en volhoubare sonkrag lewer,” het sy gesê.

Davids het gesê hy is baie opgewonde oor die landbou-afdeling en wat daar plaasvind.

“Dit beteken baie vir die leerders en bring hoop vir die mense van ons landelike omgewing,” het hy gesê.

• Schäfer se besoek volg op ’n vaktoekenning wat Huysamen van die Wes-Kaapse departement van onderwys ontvang het ter erkenning van en waarde­ring vir die omgewingsvriendelike landboupraktyke wat by die skool toegepas word. Huysamen is ook benoem vir ’n toekenning deur die nasionale departement van onderwys.

Dié praktyke sluit in organiese groenteverbouing, erdwurmboerdery, sonkragbenutting, suurstofbehandeling van brak boorgatwater en natuurlike metodes van plaagbeheer.