Nuwe lede van die Oudtshoorn Besigheidskamer wat verlede Donderdagaand hul sertifikate by die kamer se maandelike netwerkaand by die Oudtshoorn Vaardigheidskool se lapa ontvang het, is van links Charl Meyer en Ryno Meyer (Proworx), Hugo du Plessis (Cango Wildlife Ranch), Gideon Badenhorst (voorsitter Besigheidskamer), Mari-Lize Warrington (The Cheetah Preservation Foundation NPO), Werner Stoumann (Suiderkruis Sekuriteit), Luzanne Schroëder (Embroid’t), Le Roux van der Westhuizen (Karoo Tuin Kwekery) en Cecily van der Westhuizen wat rekenkundige dienste lewer. Foto’s: Schalk le Roux

Die Oudtshoorn Vaardigheidskool het die lede van die Oudtshoorn Besigheidskamer behoorlik trakteer op lekkernye en iets te drinke tydens die kamer se maandvergadering en gesellige kenmekaar in die skool se lapa. Van links is Zanne-Marié Herholdt, Desiree Dickason, Gavin Block (skoolhoof) en Belinda du Plessis van die gasheerskool.

Japie Coetzee aan die woord.
DAAR is min geleenthede wat die Groter Oudtshoorn se mense so byeen bring soos Relay for Life wat jaarliks in Februarie in die De Jager Sportstadion plaasvind, sê Japie Coetzee, voorsitter van Relay for Life Oudtshoorn.
Hy het verlede Donderdag by die Oudtshoorn Besigheidskamer se maandvergadering gesê mense van alle kleure, ouderdomme, gelowe en kulture neem deel aan dié geleentheid waar slagoffers van kanker gedenk word, maar ook ’n boodskap van hoop oorgedra word aan kankerlyers en diegene wat kanker oorwin het.
Hy het tydens die geleentheid al die besighede wat Relay for Life die afgelope jaar ondersteun het van harte bedank en sakekamerlede genooi om volgende jaar die eerste naweek van Februarie Relay for Life in groot getalle te kom ondersteun.