Samboksalf gee inbreker weg

Julia le Roux Krowitz, speaker van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit. Foto: Schalk le Roux

Julia le Roux Krowitz, speaker van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit. Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
DNA wat gevind is in ’n skoen en in ’n houertjie samboksalf (Zam-Buk) het daartoe bygedra dat ’n 28-jarige man van Bridgton, Oudtshoorn verlede Woensdag (22 Februarie) tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis is.

Allister Booysen (28) is deur die DNA en ’n palmafdruk buite ’n venster van die speaker van die Groter Oudtshoorn-raad, Julia Krowitz le Roux, se huis positief verbind met ’n inbraak op 28 Desember 2014 en ’n aanval op haar.

Booysen is in die streekhof deur landdros Mark van Wyngaardt skuldig bevind aan huisbraak en roof met verswarende omstandighede.

Hy is ook skuldig bevind aan ’n ander huisbraak en diefstal op 25 Desember 2013 uit ’n huis in St Georgesstraat en daarvoor tot nog vyf jaar addisioneel gevonnis. Hier het Booysen onder meer ’n selfoon, geheuestokkie, skeermes, skoene en verskeie houers deodorant gesteel.

Met die inbraak by Le Roux Krowitz is sy met ’n mes in die kop bokant haar linkerslaap gesteek en het sy kneusplekke aan haar arm en ’n besering aan haar elmboog opgedoen en toe sy die inbreker omstreeks 03:15 in haar huis betrap het.

Sy het net na die voorval aan Die Hoorn gesê sy het wakker geword van ’n geluid in die huis. Dit het vir haar verdag geklink waarop sy gaan ondersoek instel het.

Sy het in die donker na die sitkamer gestap waar sy ’n mansfiguur gesien het en sonder om te dink die persoon skreeuend bestorm en kaalhand aangeval het.
In dié struweling is sy gesteek en beseer.

Nadat haar aanvaller na die kombuis gehardloop het, het sy die deur agter hom toegemaak en saam met haar suster se twee kinders wat by haar oorgeslaap het, na die straat voor die huis gevlug waar sy om hulp geroep het. Sy het ook die Polisie gebel.

Booysen se skoene sowel as Le Roux Krowitz se skootrekenaar en handsak is buite die studeer­kamervenster gevind.

Le Roux Krowitz was ten tye van die voorval nog slegs die raadslid vir Wyk 1 in die Groter Oudtshoorn.
Booysen het volgens hofdokumente ’n lang misdaadrekord en was sedert 2005 verskeie kere in die hof vir diefstal, huisbrake asook dwelm­oortredings.

Le Roux Krowitz het die week gesê sy is baie beïndruk en dankbaar oor die manier waarop die polisie die saak hanteer het.

“Ek wil graag brig Lavona Januari en die Oudts­hoorn Polisie bedank vir hul flink reaksie die aand van die voorval, en die deeglike werk op die toneel wat uiteindelik tot ’n vonnis gelei het.

“Die ondersteuning van die polisie die aand toe die inbraak en aanval plaasgevind het, was en is steeds vir my ongelooflik. Mense moet die polisiemag op Oudtshoorn nie onderskat nie.”