18-jarige kry erg seer toe kar rol

Deur Ilze-Mari Gründling
’N JONG Oudtshoorniet is Dinsdag in die George MediClinic opgeneem nadat die motor waarmee sy gery het, gerol het.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die voorval om 16:51 op die Mosselbaaipad plaasgevind.

Sy sê Liezel Meyer was in ’n wit Opel Corsa op pad vanaf Mosselbaai na Oudtshoorn toe sy na bewering sowat 30 km buite Oudtshoorn beheer oor die voertuig verloor het.
“Die voertuig het gerol en in die bosse beland.”

Meyer het ernstige wonde aan haar kop en linker­arm opgedoen. Sy is later die dag geopereer.
Na verneem word, was ’n jong Labradorhondjie wat Meyer onlangs by die Oudtshoorn Diere­skut aangeneem het, ook in die voertuig. Die hondjie is ongedeerd.