Paal wat omval, kraak kind se skedel

10-jarige met lugambulans na Kaapstad

Die paal op die basketbalbaan in Bridgton wat omgeval en die 10-jarige Juwayne Adams teen die voorkop getref het. Foto: Ebenezer Titus

Die paal op die basketbalbaan in Bridgton wat omgeval en die 10-jarige Juwayne Adams teen die voorkop getref het.  Foto: Ebenezer Titus

Deur Angelique Erasmus
’N TIENJARIGE seun van Oudts­hoorn sterk tans in die Rooikruis Hospitaal in Kaapstad aan nadat sy skedel op twee plekke gekraak is deur ’n basketbalpaal wat op sy kop geval het.

Juwayne Adams het Vrydag volgens sy ouers, Winston en Elosna Adams, saam met vriende op ’n basketbalbaan naby die Bridgton Sportgronde gespeel toe die paal omgeval en hom teen die voorkop getref het.

Die toestand van dié vervalle basketbalbaan is volgens ’n inwoner wat gevra het om anoniem te bly, reeds agt jaar lank ’n teer punt vir inwoners van die omgewing.

Hy sê verskeie briewe daaroor is al aan die munisipaliteit gerig met versoeke dat dit opgeknap moet word.
Afskrifte van die briewe is in besit van Die Hoorn.

Juwayne se pa sê die paal het vermoedelik losgekom nadat ’n kind Donderdag bo-op dit geklim het.

Juwayne is ná die voorval na die George Hospitaal gehaas. Van daar is hy die volgende dag per lugambulans na die Rooikruis Hospitaal in Kaapstad gevlieg.

Volgens Juwayne se ma, Elosna, is hulle nie seker wanneer hy ontslaan gaan word nie.

“Sy skedel is op twee plekke gekraak, daar is swelling op sy brein en hy het steeds bloeding op die brein. Die bloed loop ook steeds by sy neus en ore uit.”

Volgens sy ouers vermoed dokters wat hom behandel dat ’n stuk van sy skedelbeen ’n aar raak gesteek het.

Juwayne is ’n graad 6-leerder aan Colridge Primêr.

Navrae oor die voorval is gister aan die munisipaliteit gerig en ontvangs is erken.

Die munisipaliteit het egter teen druktyd nog nie op die navrae gereageer nie.