DIE Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke skenk tans aandag aan die veiligheidsituasie in Baron van Reedestraat op Oudts-hoorn en die talle ongelukke waar ander strate dit kruis.
Die woordvoerder van die departement, Byron la Hoe, het by navraag oor verkeersbeheer in die straat en veral by die kruising van Van der Rietstraat en Baron van Reedestraat gesê die departement benodig meer statistiek oor byvoorbeeld botsings en spoedoortredings asook oor verkeersoptrede om ’n behoorlike verkeersanalise te kan doen.
Beskikbare inligting sal ondersoek en ontleed word.
Hoewel Baron van Reedestraat ’n munisipale hoofpad is met die munisipaliteit die padowerheid, subsidieer die departement 80% van die instandhouding van die pad en is hulle die beherende gesag.