SA Trompoppiekampioenskap

Die spogtrompoppies van die Hoërskool Oudtshoorn, een van vyf spanne van Oudtshoorn wat vir die topliga, die Elite-liga, in 2019 gekwalifiseer het. Foto: Ebenezer Titus
Deur Liesel le Roux
DIE SA Trompoppiekampioenskap wat die afgelope Saterdag op Oudtshoorn ten einde geloop het, was ’n triomf vir die Groter Oudtshoorn en die trompoppiespanne van die Groter Oudtshoorn wat deelgeneem het.
Oudtshoorn was vir langer as ’n week ’n miernes van bedrywighede met al die besoekers aan die kampioenskap. Besoekers het net lof gehad vir die wyse waarop hulle op Oudtshoorn deur inwoners ontvang is, die organisering van die geleentheid, die terrein waar dit plaasgevind het en die positiewe gees wat oral op die dorp geheers het.
Volgens Johnny Bisschoff, hoof van die Laerskool Van Reede en voorsitter van die SWD Majorette and Cheerleading Association, is die terugvoer wat uit alle oorde oor dié nasionale kampioenskap van die South African Majorette and Cheerleading Association (SAMCA) ontvang is, oorweldigend positief.
“Dit was vir die besoekers lekker dat die hele dorp bewus was van die kampioenskap. Wanneer die jaarlikse gebeurtenis in een van die stede plaasvind, is daar nie so ’n atmosfeer nie.”
Die trompoppiespanne van die Groter Oudtshoorn het by die kampioenskap geskitter waar hulle teen van die grootste skole in die land meegeding het. Die feit dat vyf spanne van ’n klein plattelandse dorpie soos Oudtshoorn by vanjaar se kampioenskap gekwalifiseer het om in 2019 aan die topliga van die kampioenskap, die Elite-liga, deel te neem, is ’n ongelooflike prestasie, sê Bisschoff. Die spanne is van die Hoërskool Oudtshoorn (vanjaar 10de), die Laerskool Van Reede (7de) en die Laerskool Sacred Heart (9de) wat reeds in dié moeilike liga deelgeneem en weer gekwalifiseer het, en ook die trompoppies van Bridgton Sekondêr en die Hoërskool Môrester wat met hul eerste en derde plekke in die Presidentsliga deurgedring het na volgende jaar se Elite-liga. Die topdrie-spanne in die Presidentsliga dring deur na die Elite-liga, terwyl die onderste drie spanne in die Elite-liga terugkeer na die Presidentsliga.
Bischoff sê om die prestasie van Oudtshoorn se trompoppies in perspektief te plaas, kan ’n mens net kyk na die grootte van die skole en spanne wat kwalifiseer vir die nasionale kampioenskap. Die Hoërskool Oudtshoorn se trompopppiespan wat uit 28 lede bestaan, is verreweg die kleinste in die Elite-liga waar die span van St Dominics van Boksburg byvoorbeeld met 72 trompoppies deelneem. “Dit is ’n groot prestasie om jaar na jaar in die Elite-liga te bly,” sê hy