Willon Lucas (17).
Deur Angelique Erasmus
’N GRAAD 10-leerder van die Hoërskool Môrester in Oudtshoorn, Willon Lucas (17), het Vrydag tragies gesterf toe hy omstreeks 22:00 deur ’n wit Landrover met ’n CG-registrasienommer naby Supa Quick in Voortrekkerweg getref is.
“Dit was my baba gewees; ons is bitter hartseer,” het sy ma, Dinah Lucas, vandeesweek gesê.
Die familie het eers twee dae ná die ongeluk van sy dood uitgevind omdat die Polisie nie sy identiteit kon vasstel nie.
Hulle het sy liggaam eers Sondag omstreeks 13:30 gaan uitken.
Volgens Willon se suster, Rosaline Maarman, sou hy Vrydag by ’n familielid oornag.
Toe hy nie Saterdag huis toe kom en hulle ook niks van hom hoor nie, het sy naasbestaandes bekommerd geraak waarna hulle na hom begin soek het.
“Ons het hom oral gaan soek, en is selfs Sondag na die polisiekantoor om te hoor of hy nie dalk in die selle is nie, maar daar was niemand daar met sy naam nie. Ons het toe die hospitale begin bel, en is kort daarna deur ’n speurder gekontak.”
Die speurder het die familie uitgevra oor Willon se kleredrag en sy skoene en hulle daarna ingelig dat ’n persoon Vrydagnag doodgery is. Hulle het hom toe gaan uitken.
Sy familie sê hulle is in kennis gestel dat hy op slag dood is.
Volgens die familie kan op ’n sekuriteitsvideo van ’n besigheid in die omgewing gesien word dat Willon uit ’n noordelike rigting oor Voortrekkerweg gestap het en in die binnebaan deur die voertuig getref word voordat hy die middelman bereik het.
Die voertuig was in die rigting van Bridgton op pad en het stilgehou nadat dit vir Lucas getref het.
’n Oudtshoorniet wat kort ná die ongeluk op die toneel was, sê Willon se liggaam het op die middelman gelê en sy skoene op die sypaadjie voor Supa Quick.
’n Klag van strafbare manslag word deur die Oudtshoorn Polisie ondersoek.
• Maarman sê Willon was ’n regte staatmaker. “Hy was ons alles en het altyd met ’n smile rondgeloop.”
Volgens haar was hy ’n kranige rugbyspeler en het hy daarna uitgesien om op sy 18de verjaarsdag op 18 Augustus sewesrugby op die Bridgton Sportgronde te gaan speel.
Rudi Sabad, skoolhoof van die Hoërskool Môrester, sê Willon was ’n voorbeeldige leerder. “Hy was rustig en het altyd sy samewerking gegee.” Sabad het die familie sterkte toegewens
’n Troosdiens vir Willon vind Donderdag om 18:00 plaas by die Hoërskool Môrester. Sy begrafnis is Saterdag om 11:00 by die AGS Kerk in Bridgton, met ’n byeenkoms vooraf om 10:00 by sy ouerhuis te Jonkerstraat 6, Oudtshoorn.