Johnny Bisschoff deur SAMCA vereer

Johnny Bisschoff van Oudtshoorn is Saterdagaand met die Hall of Fame-toekenning van SAMCA vereer. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
’N OUDTSHOORNIET was Saterdagaand die uitverkore ontvanger van ’n eretoekenning van die SA Majorette and Cheerleading Association (SAMCA).
Johnny Bisschoff, hoof van die Laerskool Van Reede en voorsitter van die SWD Majorette and Cheerleading Association, het die Hall of Fame-toekenning Saterdagaand ná afloop van die SA Trompoppiekampioenskap ontvang vir sy bydrae tot dié sport en die ontwikkeling daarvan, onder meer in die Groter Oudtshoorn en die SWD.
In die 42 jaar wat dié organisasie sy nasionale kampioenskap aanbied, is nog net 36 mense met die betrokke toekenning vereer.
Bisschoff het as trompoppie-afrigter die spanne van die Hoërskool Oudtshoorn en die Laerskool Van Reede gelei om die eerste hoërskool- en laerskoolspanne uit die SWD te word wat deurgedring het na die Elite-liga, die hoogste liga van die jaarlikse nasionale kampioenskap.
Hy was ook die afrigter van die eerste trompoppies uit die SWD wat met nasionale kleure bekroon is.
Bisschoff het ook erkenning ontvang vir die reuse-rol wat hy oor die jare gespeel het om fondse vir die Laerskool Van Reede en die Hoërskool Oudtshoorn se trompoppiespanne in te samel – projekte waardeur hy die ouers betrek het en die sport toeganklik gemaak het vir arm en benadeelde gemeenskappe.
Bisschoff se bydrae tot die sport strek deesdae tot by talle afrigters van spanne wat aan vanjaar se kampioenskap deelgeneem het, wat op skool lede was van trompoppiespanne wat hy afgerig het.
In die benoeming vir die toekenning wat voor SAMCA gedien het, word dié besonderse Oudtshoorniet onder meer soos volg beskryf: “Hy is een van die min mense wat by die sport betrokke is as ouer, afrigter, skoolhoof en streeksvoorsitter. Die mees bevredigende ding vir hom is nie die prestasies van sy spanne of atlete nie, maar die positiewe invloed wat trompoppies op die lewens van jong meisies het!
“Hy het al ’n instrumentele rol gespeel in die lewens van baie jong atlete – en hoewel dit by sommige onopgemerk verbygaan, word dit beslis raakgesien deur diegene wat hy bystaan. Sy onbaatsugtige optrede het tot die sukses van ander gelei. Hy is altyd op ’n positiewe manier bereid om ander te help,” lui die benoeming.