Oud-raadslid besteel by kitsbank

Japie Coetzee by die kitsbank waar sy bankkaart onlangs gesteel en geld uit sy rekening onttrek is.             Foto: Angelique Erasmus

Japie Coetzee by die kitsbank waar sy bankkaart onlangs gesteel en geld uit sy rekening onttrek is. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
TIEN minute nadat sy kitsbankkaart by ’n kitsbank op Oudtshoorn gesteel is, is R2800 in Pretoria uit sy bankrekening onttrek, sê Japie Coetzee, ’n be­kende inwoner en oud-raadslid van Oudtshoorn oor ’n onlangse voorval.

Coetzee sê hy wou vroeg die oggend van 27 Junie geld trek by Absa se kitsbank by die Queen’s Mall. Die skrif op skerm was in Xhosa. ’n Swartman het aangebied om Coetzee te help.

Al het Coetzee vir die man gesê hy het nie hulp nodig nie, het die man aanhou karring aan hom. In die verwarring wat die man veroorsaak het deur kwansuis te probeer help, het Coetzee se kitsbank-kaart verdwyn. Volgens Coetzee was daar ’n ander man by die teller langsaan besig. “Ek vermoed hy het my dopgehou om te kyk wat my geheime kode is terwyl die eerste man my besig gehou en my kaart gesteel het,” sê hy.

Coetzee sê hy het nie lugtyd op sy telefoon gehad nie en is dadelik na sy seun om sy gesteelde kaart te kan­selleer. “Toe ek egter die bank oor my kaart bel, is ek meegedeel dat R2 800 reeds in Pretoria uit my rekening onttrek is.”

Cathy Swartz, kommunikasiebestuurder van Absa, Oos- en Suid-Kaap, sê die voorval is by Absa aangemeld en dat ’n forensiese ondersoek daarna gedoen gaan word. Sy sê Absa het kameras by die betrokke kitsbank en dat die groep ook reeds verskeie sekuriteitsmaat­reëls ingestel het om kitsbanke veiliger te maak.

“As jy vermoed dat daar bedrog op jou rekening plaasvind of as jou kaart gesteel is, skakel Absa dadelik by 0860 557 557,” het sy gesê.