Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, gister by die Oudtshoorn Lughawe waar opograderingswerk tans gedoen word. Van links saam met Sylvester is Gregory Baartman (bestuurder plaaslike ekonomiese ontwikkeling), Chris Slabber (ondervoorsitter Oudtshoorn Aero Club) en Reginald Smit (waarnemende munisipale bestuurder).
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit is tans besig om die aanloopbaan by die Oudtshoorn Lughawe op te gradeer en die ou ligte langs die vliegveld met LED-ligte te vervang.
Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit wat gistermiddag uitgereik is, het die Wes-Kaapse regering R1,4 miljoen vir die installe- ring van die ligte bewillig en befonds die munisipaliteit die herseel van die aanloopbaan.
Die eerste fase van die herstelwerk aan die aanloopbaan het Dinsdag afgeskop.
Dié herstelwerk is genoodsaak nadat die elektriese kabels by verskeie geleenthede in 2018 gesteel is.
Die gebrek aan ligte op die aanloopbaan het dit onmoontlik gemaak vir die AMS (Air Mercy Service)- helikopter en Netcare 911 om saans noodvlugte uit te voer.
“Dit het ’n groot leemte gelaat in die doeltreffenheid van die noodbystand wat die Oudtshoorn Aero Club moet lewer,” het Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, Woensdag gesê toe hy die lughawe besoek het om te gaan kyk hoe die werk daar vorder.
Die Oudtshoorn Aero Club is veronderstel om 24 uur, sewe dae per week ’n diens aan omliggende dorpe te lewer.
Die installering van die ligte word gedoen deur VE Reticulation van Mosselbaai.
Die projek sal einde Oktober 2019 voltooi wees.