
Deur Heinrich Bosman
DIE einde van die jaar kom nader en baie van ons wil see toe of binneland toe. Met die hoeveelheid bagasie wat gewoonlik moet saam, het jy ’n sleepwa nodig. As jy boonop gaan kamp en jy moet die karavaan haak en die boot moet ook nog saam, moet jy seker maak dat jy die wet nakom. As jy dalk gedurende die jaar van voertuig verander het, moet jy dubbel seker maak jy kan die regte gewig sleep volgens wat jou rybewys en jou voertuig jou toelaat asook ander wetlike bepalings. Maak ook seker jou sleepstang kan die gewig hanteer wat jy wil sleep.
In 2000 is die nuwe kaartlisensie in gebruik geneem en die omskakeling van kode 8 na die nuwe klassifikasie. Jou kode 8 is omgeskakel na ’n B of ’n EB-lisensie. Maar wat het dit met die sleep van ’n sleepwa of karavaan te make? Baie. Almal wat ’n lisensie bekom het na 2000 het almal B-lisensies. As jy meer as 750 kg wil sleep, moet jy die hele proses van leerlinglisensie en toetsing ondergaan; dié keer met ’n sleepwa aan jou voertuig.
Volgens die nuwe klassifikasie mag ’n lisensiehouer met ’n B-lisensie maksimum 750 kg sleep. Diegene met ’n EB-lisensie kan meer as 750 kg (onderhewig aan voorwaardes) sleep.
Die wet bepaal dat die bruto voertuigmassa nie 750 kg vir kode B mag oorskry nie. Nou ontstaan die vraag wat beteken bruto voertuigmassa. Bruto voertuigmassa (of gross vehicle mass – GVM – in Engels) is die totale gewig van ’n voertuig – hetsy sleepwa, karavaan of boot – met sleepwa ten volle gelaai.
Elke voertuig het ook ’n tarra-gewig. Tarra-gewig is die gewig van ’n voertuig sonder enige vrag. Om te weet hoeveel jy mag laai, moet jy die tarra-gewig van die GVM aftrek. As ons ’n gewone sleepwa neem met ’n GVM van 700 kg en sy tarra is 160 kg, mag jy net ’n 540 kg-vrag laai.
’n Verdere bepaling is dat die sleepwa wat deur die voertuig gesleep word, se remstelsel (soos deur die wet vereis) deur die tarra van die sleepvoertuig bepaal word. Sien die kolom links waarin dit opgesom word.
Let wel, die sleepwa se GVM mag nie die tarra van die sleepvoertuig oorskry nie, al het die sleepwa/karavaan ’n inloop-remstelsel (die meeste karavane het ’n inloop-rem). Indien die GVM die tarra oorskry, moet hy ’n diensrem hê (’n diensrem werk of met lug, of met elektriese krag of vakuum).
Indien die GVM van die sleepwa 3 500 kg oorskry, moet hy ’n diensrem hê.
Die manne wat ’n sleepwa agter sy karavaan sleep, moet seker maak dat die som van die sleepwa en die karavaan se GVM nie die tarra van die sleepvoertuig oorskry nie.
Maak dus seker dat jy weet wat jou sleepwa/karavaan se GVM asook die sleepvoertuig se tarra is.
Die hedendaagse voertuie is heelwat ligter as wat hulle voorgangers was. Maak dus seker jy tree op binne die wet. Indien jy in ’n ongeluk kom, mag die versekering weier om uit te betaal indien jy die sleepperk oortree het.
Veilig sleep!
• Rig navrae en vrae gerus aan Gerald Becker, die hoof van provinsiale verkeer op Oudtshoorn, by tel 044 272 4197.