Muurskildery wys die wonder van lees

Die kunstenaars (van links) Earlyn Cloud, Zietske Saaiman en Colin Meyer by die muur­skildery. Foto: Liesel le Roux

’N REUSE muurskildery wat die wonder van lees uitbeeld, het die afgelope paar weke onder die hande van drie jong kunstenaars van Oudtshoorn, Colin Meyer, Zietske Saaiman en Earlyn Cloud gestalte gekry.

Hulle het besluit om dié fokusmuur te verf om Die Lighuis, ’n nasorgsentrum in Bridgton, op te helder. Die Lighuis, waar kinders blootgestel word aan sport, drama en lees, lê die drie kunstenaars baie na aan die hart.

Die muurskildery wys ook hoe lees kinders kan beïnvloed en wegvoer na ’n ander wêreld, en so bydra tot die ontwikkeling van kinders by Die Lighuis se verbeeldings.

Earlyn, ’n potloodkunstenaar sê: “Die feit dat ek met my kunstalente kan terugploeg in die gemeenskap, beteken die wêreld vir my.” Hy sê die projek het hom fisiek en psigies uitgedaag, maar dat hy trots is op die eindproduk.

Zietske Saaiman glimlag breed wanneer sy praat oor hoe spesiaal die ervaring was; nie net omdat hulle hul talente met die kinders kon deel nie, maar ook omdat dit haar liefde vir en belangstelling in kuns kon aanwakker by die jeug.

Vir Colin Meyer is die doel van die muur­skilderyprojek eenvoudig – dat dit die jeug sal inspireer om, in alles wat hulle doen, hard te werk en toegewyd te bly aan hul drome.

Die drie kunstenaars is betrokke by vanjaar se Absa Laat Jou Kuns Wen Mentorskapprogram onder die leiding van Madeleine Miles van Oudts-hoorn en dr Paul Bayliss, Absa se kunskurator.

Dié mentorskapprogram se doelwit is om jong kunstenaars van Oudtshoorn te bemagtig, hulle vaardighede te ontwikkel, en vir hulle geleenthede in die kunsbedryf te skep. Die program wil ook dié kunstenaars se vaardighede só ontwikkel dat hulle later ook as mentors kan dien vir ander jongmense en so kan teruggee aan die gemeenskap.