Eleanor Bouw-Spies, DA-LP vir Oudtshoorn, gesels Dinsdag met inwoners by ’n raadsvergadering. Die inwoners was erg ontsteld oor ’n behuisingsprojek by Spekkop maar het gekalmeer nadat Bouw-Spies die huidige situasie aan hulle verduidelik het. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
DIE Spekkop-behuisingsprojek in Oudtshoorn waaroor ’n groep inwoners van die dorp by Vrydag en Dinsdag se raadsvergaderings erg ontsteld was, is in ’n beplanningsfase en nog nie deur die munisipaliteit goedgekeur nie. So lui ’n persverklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Die inwoners, wat nie van die ligging van die projek hou nie omdat dit volgens hulle naby aan die stortingsterrein geleë is, het raadsvergaderings Vrydag en Dinsdag verskeie kere ontwrig omdat hulle oor die projek wou praat.
Van die inwoners was onder die indruk dat die projek spesifiek gerig is op inwoners van Wyk 6, wat volgens die munisipaliteit nie korrek is nie. Volgens die munisipaliteit sal aansoekers op die behuisingswaglys uit alle wyke oorweeg word.
Die munisipaliteit wys in sy verklaring daarop dat ’n behuisingsprojek aan streng wetlike vereistes moet voldoen voor dit goedgekeur kan word. Dit sluit ’n omgewingsimpakstudie en ’n openbare deelnameproses in wat nog nie afgehandel is nie.
Die omgewingsimpakstudie deur die Department van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning sal na verwagting eers oor 12 maande goedgekeur word, terwyl die openbare deelnameproses tans aan die gang is.
Die munisipaliteit het die publiek en regeringsorganisasies genooi om insette hiervoor te lewer. Advertensies vir kommentaar is reeds geplaas en openbare vergaderings vir die eerste week van November geskeduleer. Na goedkeuring van die omgewingsimpakstudie moet die munisipaliteit ook nog eers ’n befondsingsaansoek indien.
Spesialisstudies oor luggehalte sal ook eers gedoen moet word.
Werk aan die projek sal na verwagting nie voor April 2021 kan begin nie.