Herstelwerk by Raubenheimerdam

Een van die boonste kleppe in die inlaattoring by die Raubenheimerdam wat vervang moet word. Ander kleppe wat vervang moet word, is tot 20 meter laer in die toring. Foto verskaf
GEEN verdere swakplekke of lekplekke is deur ’n lekkasie-opsporingspesialis in die pyplyn in die tonnel onder die Raubenheimerdam gevind nie, sê Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Die spesialis het die hele pyplyn met ultrasoniese toerusting nagegaan na die onlangse herstel van lekplekke in die tonnel.
“Die pyplyn is weer met beton omhul en die werk in die tonnel aan die pyplyn suksesvol voltooi. Die pyplyn is in bedryf gestel en voer tans water na Oudtshoorn.”
Volgens Mangqwengqwe skenk die munisipaliteit tans aandag aan kleppe binne die inlaattoring van die dam wat nie meer dig sluit nie en vervang moet word.
“Dit is ook ’n moeilike werk aangesien die kleppe groot en swaar is en die werkspasie binne die inlaattoring uiters beperk. Dit mag dalk nodig wees dat duikers die inlate onder die water tydelik moet seël sodat dié kleppe vervang kan word.”