
Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit se berekening van riooltariewe volgens die aantal spoeltoilette op ’n perseel, is onwettig en ongrondwetlik, sê AfriForum se Oudtshoorn-tak.
Verteenwoordigers van AfriForum Oudtshoorn het op Woensdag, 13 Junie, ’n skrywe aan die munisipale bestuurder, Allen Paulse, oorhandig waarin die munisipaliteit versoek word om dié gebruik reg te stel asook die rekeninge wat vir dié gebruik aan belastingbetalers gestuur is.
Volgens die skrywe word riooltariewe al sedert 1 Maart 2001 verkeerdelik volgens die aantal spoeltoilette op ’n perseel gehef.
AfriForum dui in hul skrywe aan dat hulle remediërende stappe, wat moontlike regsaksie kan insluit, sal oorweeg indien die munisipaliteit in gebreke bly om aan die versoek gehoor te gee.
Volgens Afriforum is dié berekening van riooltariewe in stryd met Artikel 74 (2) (b) van die Munisipale Stelselswet (Wet 32 van 2000) wat bepaal dat die bedrag wat individuele verbruikers vir munisipale dienste moet betaal, aan die hand van die gebruik van dié dienste bepaal moet word.
“Die aantal toilette wat ’n huishouding het, hou dus geen verband met die hoeveelheid riool wat op die perseel gegenereer word nie,” sê AfriForum in ’n persverklaring.
“Aangesien die werking van spoeltoilette afhanklik is van water wat die munisipaliteit verskaf en dus bepaal kan word aan die hand van meterlesings, kan die volume riool wat gegenereer word aan die hand van die waterverbruik bepaal word.
“In die praktyk word rioolgenerering gewoonlik volgens klimatologiese omgewingsfaktore op tussen 60% en 70% van die drinkwaterverbruik bepaal.”
AfriForum het Paulse ook versoek om binne 14 dae ná die datum van die skrywe aan te dui welke stappe gedoen gaan word om te verseker dat die munisipale raad die riooltariefberekening regstel, asook die rekeninge wat foutiewelik op die aantal toilette gegrond is.
Paulse het op navraag van Die Hoorn bevestig dat hy die skrywe van AfriForum Oudtshoorn ontvang het.
“Daar word aandag aan die brief ge-skenk en ons sal binne 14 dae teenoor AfriForum reageer,” het Paulse gesê.