• Duisende rande se ware by hondeskou gebuit

Christie Slabbert van Oudtshoorn wys na die gat langs die Grobbelaarsrivier waar hy Saterdag n handsak gevind het wat die naweek by die hondeskou op die dorp gesteel is. Hy het ’n kamerasak met ’n kamera en lense wat saam met die handsak gesteel is, met ’n tweede soektog Sondag daar naby gevind. Foto: Angelique Erasmus
DEUR Angelique Erasmus
WAAR ’n wil is, is ’n weg!
Dit het Christie Slabbert, ’n bouer van Oudtshoorn, verlede naweek net weer bewys toe hy ná ’n soektog langs die Grobbelaarsrivier ’n handsak en kamerasak opgespoor het wat Saterdag, 16 Junie, tydens die jaarlikse hondeskou op Oudtshoorn gesteel is.
Die hondeskou het op die sportterrein van die Laerskool Wesbank plaasgevind, wat langs die Grobbelaarsrivier geleë is.
Slabbert, wat self sy honde die naweek geskou het, sê hy het Saterdag van die diefstal te hore gekom. Die dief het glo met die handsak en kamerasak van een van die honde-eienaars oor die heining teenaan die rivier gespring en laat spaander.
Die handsak en kamerasak met die inhoud daarvan was na raming sowat R90 000 werd.
“Ek het eers lank ná die tyd daar aangekom en te hore gekom van die diefstal. Toe besluit ek om te gaan kyk waar die dief oorgespring het,” vertel Slabbert. “Ek kon sy spore sien en het dit begin volg.”
Slabbert het in die proses op ’n gat onder ’n bos afgekom waarin die handsak versteek was.
Die eienaar se ringe wat sy daarin gebêre het, was steeds in die handsak! Ongelukkig was ’n beursie en ’n iPad nie meer daarin nie, en die kamerasak was ook nêrens te sien nie.
Slabbert het Sondagoggend egter besluit om weer te gaan soek en te kyk of hy nie van die ander gesteelde goedere kan kry nie.
Hy het weer langs die rivier gaan stap en was weer suksesvol! Nie ver van die gat waar die handsak gevind is nie, het hy die kamerasak met die kamera en lense gevind waar dit onder bosse versteek was.
Slabbert sê die gebied weerskante van die Grobbelaarsrivier is duidelik ’n baie geskikte wegsteekplek vir gesteelde goedere.
Met ’n besoek van Die Hoorn aan die gedeelte langs die rivier waar Slabbert die handsak en ka-merasak gevind het, moet ’n mens onder doringtakke en bosse deur buk, en oor boomstompe klim.
’n Onbedekte waterput tussen lang gras en plantgroei in dié omgewing wat moeilik sigbaar is, hou ’n gevaar in vir veral kinders en diere.
Die riete staan ruig, met tekens dat van die doringbome daar afgekap word vir vuurmaakhout.
Die gebied is ook met vullis besaai.
“Dis so ’n mooi omgewing. As dit opgeruim en skoongemaak en die takke gesnoei word, sal dit ideaal wees om hier met jou honde te kom stap.
“Maar nou kan die doringtakke en riete oorstromings veroorsaak as die rivier afkom en is dit die perfekte wegkruiplek vir diewe,” sê Slabbert.
Hy beskou homself nie as ’n held oor sy goeie speurwerk nie, maar net as iemand wat sy deel gedoen het.
“Ek glo as ons almal saamwerk en hande vat, kan ons diefstal en probleme op die dorp bekamp,” sê hy.
• Sowat 206 honde van 55 rasse het die naweek aan die Outeniqua Kennel Club en die George Kennel Club se jaarlikse hondeskoue op Oudtshoorn deelgeneem.
Philip van Zyl, hooforganiseerder van die geleentheid, sê deelnemers het van regoor die land, van so ver as Natal en Gauteng, na Oudtshoorn gereis.
“Die naweek was baie suksesvol. Vanjaar was die weer beslis ook aan ons kant gewees.”
Die algehele wenner was ’n windhond uit Kaapstad.
Die Oudtshoorn-skou was die laaste hondeskou waaraan die 81-jarige eienaar van die wenhond deelgeneem het.