Spesiale Kuierbuurtpryse vir Oudtshoorniete!

Nic Barrow, sakeman en inisie­erder van die KKNK, Maandagaand op Oudtshoorn aan die woord by die be­kendstelling van vanjaar se 25ste fees. Foto: Ilse Jordan

Hugo Theart (links), waarnemende uitvoerende hoof van die KKNK, gesels met Pieter Fourie oor die eerste dae van die KKNK.
Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORNIETE kan reeds vanaf môre (Vrydag 18 Januarie) week­kaart­jies vir vanjaar se 25ste KKNK teen ’n winskoopprys van slegs R200 koop!

Dié goedkoop weekkaartjie – net vir Oudtshoorniete – sal tot 15 Februarie by die KKNK-kantoor by Arbeidsgenot in Jan van Riebeeckweg op Oudtshoorn te koop wees. Dit maak vanjaar se kwart­eeufees toeganklik vir inwoners vir slegs sowat R28 per dag! Vanjaar se fees duur sewe dae en die Kuierbuurtkaartjie se amptelike prys is R300.

Dié kaartjie gee toegang tot ses ope­lug­musiekkonserte, die stalle­tjies, die Speelbos vir kinders, Lip­lekker en die Castle Lager-verhoog.

Die goedkoop weekkaartjie is net een van talle spesiale aanbiedings om vanjaar se KKNK op groot skaal te vier.

Nog ’n groep wat baat, is almal wat soos die KKNK in 1994 ”gebore” is. Dié groep wat vanjaar 25 jaar oud word, kry ’n gratis toegangskaartjie tot die Kuierbuurt, gratis toegang tot Laataand in die Netwerk24-Feeskafee en verskeie ander verrassings! Die enigste voorwaarde hier­voor is om aanlyn by kknk.co.za te regi­streer. Versprei gerus dié goeie nuus aan almal wat vanjaar 25 jaar oud word!

Ander Suid-Afrikaners word nie ver­geet nie. Hulle kan van 18 tot 31 Janua­rie ’n Kuierbuurtkaartjie teen R225 by Computicket koop. Suid-Afrikaners van 70 jaar en ouer kan tot 20 Maart R225 vir hul kaartjies betaal.