Die Klein Karoo se twee toppresteerders in die 2018-matriekeksamen: Carla Swart van die Hoërskool Oudtshoorn (bo) en Anna-Mart Schutte van Langenhoven Gimnasium (onder). Foto’s verskaf

Deur Angelique Erasmus
SY wil eendag gaan reis, die wêreld sien en die mooi daarvan op kamera vaslê, sê die Klein Karoo se toppresteerder in die afgelope matriekeksamen, Anna-Mart Schutte.
Anna-Mart, Langenhoven Gimnasium se hoofmeisie vir 2018, spog met ’n gemiddelde persentasie van 90,7% en onderskeidings in sewe vakke.
Haar belangstellings is fotografie, kuns en ontwerp en sy studeer vanjaar visuele kommunikasie-ontwerp aan die Universiteit van Stellenbosch (US). “Ontwerp was my gunsteling-vak op skool, en ek wil graag eendag ’n werklike verskil maak met my ontwerpwerk,” vertel Anna-Mart.
Dié kreatiewe, avontuurlustige presteerder, het haar skoollopbaan aan die Laerskool Wesbank begin. Sy glo mense moet die geleentheid kry om hul “unieke self” uit te leef.
Anna-Mart wat tydens haar skooljare verskeie landwye pryse vir haar digkuns ontvang het, was ook in 2018 voorsitter van haar skool se Matriekraad en die leerders se verteenwoordiger op die Beheerliggaam. Sy was ook in 2018 Mej Gim.
Sy sien baie uit na haar studentedae. “Ek gaan my mamma, Annelize Schutte, die meeste mis, veral die breakfast in bed elke oggend, maar glad nie die bloedige Oudtshoorn-hitte nie!” sê sy.
Ook die Hoërskool Oudtshoorn se Carla Swart spog met ’n gemiddelde persentasie van meer as 90%.
Met ’n gemiddeld van 90,43% en sewe onderskeidings het Carla Swart gewys waarom sy haar skool se Dux-leerder was in 2018 en die toekenning gekry het vir die leerder met die hoogste gemiddeld tydens haar hoërskoolloopbaan – ’n indrukwekende 94%.
Sy is nie net slim nie, maar was ook lief om aktief te wees. Sy was kaptein van die eerste hokkiespan, geniet dit om fiets te ry en in die see te swem en snorkel. Sy het ook ’n voorliefde vir lees.
Carla, ook ’n oud-leerder van die Laerskool Wesbank, studeer vanjaar B Rek aan die US. Sy sê haar gunsteling-vak was rekeningkunde.
“Ek is passievol oor gelykheid op alle vlakke, sowel as die bevordering van vroueregte in ons land.
Haar droom is om ’n doktorsgraad te verwerf, en dan in die buiteland, moontlik in Italië, te gaan werk vir ’n internasionale maatskappy.
“Ek gaan beslis my familie en vriende mis, maar nie die skoolklok en skoolklere nie!” voeg sy by. “
• Meer oor die matriekpresteerders op bladsye 3, 6, 7, 8 en 9.