Kunste Onbeperk skuif na Arbeidsgenot

1 cj_langenhoven_foto
Deur Liesel le Roux
KUNSTE ONBEPERK, die maatskappy wat die KKNK en Klein Karoo Klassique aanbied, skuif op 1 Augustus uit sy kantore op die derde vloer van die Seppie Greef Gebou in Voortrekkerweg op Oudtshoorn na die Neelsie Teater by Arbeids­genot – CJ Langenhoven se woonhuis in Jan van Riebeeckweg in Oudtshoorn.

Daar word tans hard gewerk om die Neelsie Teater, wat in Maart 2008 sy deure skuins agter Arbeids­genot geopen het, in ’n kantoorruimte vir Kunste Onbeperk te verander.
’n Driejaar-huurkontrak wat die Langenhoven Gedenkfonds met Kunste Onbeperk gesluit het, bied ’n noodsaaklike inkomste vir Arbeidsgenot en die Neelsie Teater wat al jare lank sukkel om kop bo water te hou.

En hoewel dit ’n hartseer einde is vir dié mooi teater met sy goeie akoestiek wat veral ’n spesiale plek het in die harte van musiekliefhebbers van Oudts­hoorn, is dit volgens Rhodé Snyman, uitvoe­rende hoof van Kunste Onbeperk, ook die begin van ’n belangrike nuwe era..

Sy sê die vennootskap wat op 1 Augustus begin met die huurkontrak tussen die Langenhoven Gedenkfonds en Kunste Onbeperk, kan ’n baanbreker wees vir die voortbestaan van sulke museum-huise en sal beide die Langenhoven Gedenkfonds en Kunste Onbeperk bevoordeel.

“Die Langenhoven Gedenkfonds besit ’n huis maar het nie bedryfsfondse nie, terwyl Kunste Onbeperk weer die bedryfsfondse het maar nie ’n eie tuiste nie.

“Dit is inderdaad altyd hartseer as ’n ruimte wat vir teater bedoel is, vir ’n ander doel gebruik moet word. As ’n mens egter nugter dink, is dié gebou te klein om doeltreffend te wees vir die aanbied van teater. En vir ons sal daar nie ’n groter voorreg wees as om in ’n gebou wat as teater gebou is, teater vir Suid-Afrika te maak nie.”

Die besluit word volgens Snyman met geesdrif ondersteun deur Langenhoven se nageslag en ook deur die borge wat by die aanvanklike oprigting van die Neelsie Teater betrokke was.
Kunste Onbeperk sal vanaf 1 Augustus ook Arbeidsgenot bestuur en bemark.

“Ons het erns met Langenhoven se nalatenskap en wil graag meer mense as ooit tevore na Arbeids­genot lok. Ons glo werklik daar sal meer mense nou op dié terrein kom as tevore.”

Snyman het ook gesê Kunste Onbeperk is van plan om die terrein van Arbeidsgenot as buite­lugteater te gebruik en verder te ontwikkel.

Daar word reeds beoog om die KKNK se program vir 2018 gedurende November in die tuin van Arbeidsgenot bekend te stel.

Volgens Eureka Barnard, voorsitter van die Langenhoven Gedenkfonds, word gesprekke oor moont­like samewerking tussen die Langenhoven Gedenkfonds en Kunste Onbeperk al jare lank gevoer.

“Die besluit dat die Neelsie Teater en Arbeids­genot aan Kunste Onbeperk verhuur sal word, was ’n weldeurdagte proses wat oor jare gestrek het.”

• Die feit dat die Neelsie Teater met sy goeie akoestiek egter verdwyn, was die week vir baie Oudtshoorniete ’n skok.

“Dit is tragies. Dit voel vir my of ’n deel van Oudts­hoorn se kulturele hart uitgeruk word,” het die sakeman Nic Barrow aan Die Hoorn gesê. Die teater was lank die sentrum waar gereelde klas­sieke musiekkonserte deur die Oudtshoorn Mu­siekvereniging onder die voorsitterskap van Barrow aangebied is.

Barrow het Kunste Onbeperk ’n aantal jare gelede versoek om die bestuur van die Musiek­vereniging en die aanbieding van die konserte oor te neem. Die konserte het egter dood­geloop.
“Dit voel of iemand my op die maag geskop het,” het ’n ander inwoner gesê wat gevra het om anoniem te bly.

Een van die grootste ondersteuners van die Musiekvereniging en die teater, AnneLise Vlok-Schutte, het haar ontsteltenis oor die sluiting van die teater in ’n lesersbrief aan Die Hoorn ver­woord. Die brief verskyn op bladsy 4.

• Almal is welkom by ’n vlaghysingseremonie om 10:00 op Vrydag 11 Augustus by Arbeidsgenot om Langenhoven se verjaardag die volgende dag (12 Augustus) te vier. Die vlag­hysing sal waargeneem word deur die hoofleiers van Langenhoven Gimnasium terwyl leiers van die Hoërskool Oudts­hoorn en die Hoërskool Langenhoven op Riversdal dit ook sal bywoon. Die pu­bliek is ook welkom by ’n huldigingsprogram om 11:00 die Vrydagoggend in die saal van Langehoven Gimnasium waaraan leerders van die drie hoërskole sal deelneem.