Harde werk nou nodig om dié vullismonster te takel

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Die skoonmaakveldtog van die Grob­belaarsrivier op Mandeladag en die dae daarna is voorwaar iets waarvoor alle betrokkenes ’n klop op die skouer moet kry.

Die Grobbelaarsrivier is een van die sierade van Oudtshoorn wat bydra tot die skoonheid van die dorp en iets waar­na die munisipaliteit en inwoners moet omsien, en beslis nie moet verwaarloos of bemors nie. Die uitdaging nou egter is om die rivier skoon te hou.

Daar is net een manier waarop dit moontlik sal wees en dis deur ’n bewusmakingsveldtog wat ’n trots in die rivier en dorp sal skep en waarby almal sal inkoop. Om dit gedoen te kry, sal egter nie maklik wees nie.

Daar het die laaste aantal jare toenemend ’n kultuur van mors en rommelstrooiing op Oudtshoorn ontstaan. Daar is selfs mense wat glo hulle “skep werk” as hulle mors omdat iemand anders dan konsuis betaal sal word om hul ge­mors op te tel.

Verder van die waarheid kan dit nie wees nie. ’n Vuil dorp is nou maar een­maal ’n plek wat baie sakelui sal afskrik om te belê en ook nie goed is vir toerisme nie. Dit is dus ’n dorp wat potensieel kan verarm omdat dit sakelui en toeriste afskrik.

Die Grobbelaarsrivier is egter ongelukkig nie die enigste probleempunt op die dorp waar ’n morsery groot skade aan die dorp se beeld en die omgewing kan aanrig nie. Daar is talle strate en oop ruimtes in veral Bridgton en Bongolethu wat vol vullis lê. Maar twee groot seeroë is die straathoek by die Bridgton Sportgronde en die ingang na Oudts­hoorn vanuit die noorde van die land – via De Rust.

By die Bridgton Sportgronde – wat enkele jare gelede teen groot koste opgegradeer is en van die beste geriewe in die streek het – word deesdae dikwels groot sportgeleenthede aangebied. Niemand wil egter mense van elders bring na ’n sportterrein waarbuite inwoners hul gemors daagliks in groot hope neergooi nie.

Vrydag en Maandag is die straat­hoek volgens inwoners wat naby die stadion woon, deur munisipale wer­kers skoongemaak, maar kort hierna het inwoners – klaarblyklik van huise ’n entjie daarvandaan – weer hul gemors daar kom neergooi.

Ons sou graag dié morsers wou vra hoekom hulle hul vullis daar stort, en nie soos ander inwoners in die om­gewing hul vullis weekliks vir die munisipaliteit uitsit om te verwyder nie.

Is hulle ingelig dat hulle op ’n dorp woon waar sporttoerisme alle inwo­ners kan bevoordeel, maar nie as hulle so mors nie? Verstaan hulle die gesondheidsgevare en omgewingsnadele van so ’n morsery waar mense woon en kinders skool toe loop?

En dan is daar die noordelike ingang van Oudtshoorn. Oor die skaam­te wat ’n mens ervaar oor die hope sak­ke en papiere wat dié ingang van Oudtshoorn ontsier, wil jy byna nie eens praat nie. Verskeie skoonmaak­aksies daar deur inwoners het min aan die veld vol rommel weerskante van die pad verander, terwyl die een ná die ander brief in dagblaaie verskyn van Suid-Afrikaners wat vertel hoe vuil daardie ingang van Oudtshoorn is.

Jare gelede, toe Riemvasmaak net ’n plakkerskamp was, het dit nie so daar gelyk nie, Wat het intussen gebeur?

Die groot vraag is dus: Wat gaan die munisipaliteit, die inwoners en die sakegemeenskap – die een kan dit nie sonder die ander doen nie – nou doen om die Grob­belaarsrivier, die Bridgton Sportgron­de en die noordelike ingang van Oudtshoorn te beskerm?

Is die antwoord vullisdromme, of herwinningsdromme? Is dit tyd dat die munisipaliteit mense beskikbaar stel om gereeld die punte te besoek om oortreders op te voed en te “verwilder”. Of moet inwoners self inspring en so iets aan die gang kry?

Dit is nou tyd vir optrede en ook om ’n bietjie “buite die boks” te dink. Hier is nie maklike antwoorde nie, maar hopelik sal dit nie dapper en vasbeslote Oudtshoorniete afskrik nie. (Diegene wat graag kla, blameer, sleg-sê en van “ander” verwag om probleme op te los, kan gerus waagmoedig raak en saam die vullisprobleem aandurf.) Hulle sê daar is net een manier om ’n olifant te eet: en dit is happie vir happie.

Daar is inderdaad geduld, uithouvermoë, harde werk en durf nodig om dié vullismonster te takel, al is dit een “happie” op ’n keer.

Die straathoek by die Bridgton Sportgronde Dinsdagoggend. Volgens inwoners is die hoek Maandag deur die munisipaliteit skoongemaak. Foto: Liesel le Roux

Die straathoek by die Bridgton Sportgronde Dinsdagoggend. Volgens inwoners is die hoek Maandag deur die munisipaliteit skoongemaak. Foto: Liesel le Roux