Klassieke Kersfees kom kuier in Klein Karoo

INWONERS van Oudtshoorn en die Klein Karoo kry vanjaar die uitsonderlike geleentheid om die Kersvakansie op ’n hoë noot af te skop met Klassieke Klein Karoo Kersfees op Saterdag, 8 Desember.

Corlia Botha en Kevin Leo tree saam met ’n orkes en ’n koor op en gaan Kersliedere en mooi klassieke ­treffers sing
Dié konsert, wat die afgelope ses jaar in die Paarl en Hartenbos aangebied is, word vanjaar eksklusief in die Klein Karoo op ’n uitvoergranaatplaas, Celebratio, aangebied. Die plaas is sowat 30 km buite Oudtshoorn en reg langs die sementpad op pad na Calitzdorp.

Gerhard Meyer, wat die konsert gekonseptualiseer het, het verlede jaar na die Klein Karoo verhuis waar hy op die plaas Celebratio met granate en vye boer. Die plaas is reg langs die sementpad geleë, sowat 30km buite Oudtshoorn rigting Ca­litzdorp.

Gerhard is ’n ou hand as dit kom by die reël van feeste en konserte. Hy het die Cultivaria-fees in die Paarl op die been gebring en dit suksesvol vir etlike jare aangebied.

Hy het die 5000-sitplek amfiteater by die Taalmonument in die Paarl, wat dertig jaar lank in onbruik gestaan het, laat herleef met verskeie kon- serte deur onder andere internasionale kunstenaars soos Dana Winner, Smokie, Demis Roussos, Alison Moyet, ELO en BZN.

Na sy vertrek na Oudts­hoorn het die amfiteater weer in onbruik verval. Gerhard was ’n aantal jare ook Bles Bridges se toer­bestuurder.

Volgens Gerhard is Klassieke Klein Karoo Kersfees 2018 die eerste van ’n reeks konserte wat in die somermaande op die plaas aangebied sal word.

Klassieke Klein Karoo Kersfees 2018 spog met twee van die grootste stemme in die Suid-Afri-kaanse musiekbedryf: Corlea Botha en Kevin Leo.

Hulle sal begelei word deur ’n klassieke orkes en koor. Die bekende Paul Loeb van Zuilenberg is die orkes se dirigent en die koor staan onder lei-ding van Marinda Bothma Schutte.

Die gehoor kan ’n samestelling van gewilde Kersliedere en populêre klassieke nommers verwag.

Daar sal ook geleentheid wees om saam met die kunstenaars en koor ’n paar Kersliedere te sing.

Van die liedere waarna gaste kan uitsien sluit klassieke treffers in soos “Time to say Goodbye”, “Nessun Dorma”, “O sole Mio” en ook ’n paar Afrikaanse treffers soos “Sonvanger”, “Jerusalem” en van die mooiste Kersliedere.

Klassieke Klein Karoo Kersfees is die ideale geleentheid om saam met familie en vriende die Kerstyd op gepaste wyse af te skop.

Dit beloof om ’n feestelike aand onder die sterre in die buitelug te wees met kos- en wynstalletjies. Die hekke maak om 17:30 oop en die konsert begin 19:15.

Gerhard benadruk dat geen grondpad gery hoef te word om die plaas te bereik nie.

Alle sitplekke is op stoele wat gereserveerd is en kaartjies kos van R130 tot R180. Kaartjies is van volgende week Woensdag af beskikbaar by PostNet Oudtshoorn, Queen’s Mall.

Die konsert word aangebied in samewerking met Die Hoorn.

Vir meer inligting kan Gerhard by 0828027138 gekontak word.