Leanda en Tielman van der Berg Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
DIT is vandag Valentydsdag en hier is die wenner van Die Hoorn se Valentynskompetisie waarin ons gevra het vir ’n besonderse Valentynsdagstorie.
Die wenners is Leanda en Tielman van den Berg van Oudtshoorn. Hul wen ’n ete vir twee ter waarde van R250 by La Dolce Vita. Dankie aan La Dolce Vita vir dié prys!
Die paartjie ken mekaar reeds 29 jaar en is 28 jaar lank getroud.
Leanda is ’n gebore Oudtshoorniet en het net buite Oudtshoorn op ’n plaas grootgeword, terwyl haar man vanaf Hermanus hom hier kom vestig het.
Leanda sê hulle het mekaar destyds deur ’n gemeenskaplike vriend ontmoet waar hul rugby gaan kyk het. Daarna het hulle te lekker saamgedans by ’n dansplek; min wetend dat dit die begin van hul lewe saam sou wees.
Sy skerts dat hy haar nie gevra het om te trou nie, maar dat hulle mekaar sommer gevra het, en in 1991 in die NG Moedergemeente getrou het.
Hulle is nie net huwelikmaats, ouers en grootouers nie, maar beste vriende en alhoewel haar man nie deur die jaar gereeld vir haar blomme gee nie, kry sy darem op Valentynsdag ’n blommetjie.
Hier is Leanda se wenverhaal:
Elke dag is vir ons Valentynsdag
My man is ses jaar gelede met kolonkanker gediagnoseer. 30 cm van sy dikderm is toe verwyder. Ons moes twee keer per maand George toe ry vir sy chemo.
So breek Valentynsdag aan en ons moes op daai dag weer vir chemoterapie gaan. Die dag draai so mooi uit.
Die mooiste was toe ons by die onkologie-eenheid ingaan daardie dag, toe is alles opgemaak vir Valentynsdag. Elke pasiënt het ’n rooi sjokoladehartjie gekry saam met hul Valentyn.
Ek het my man die styfste drukkie gegee en vir hom gesê hoe lief ek hom het. Ons het die beste van ons dag gemaak al was ons in die onkologie-eenheid op George. Hy is al ses jaar kankervry en ons kan nog elke jaar Valentynsdag vier.
Elke dag is vir ons soos Valentynsdag.