Christo van der Bergh en sy aktetas. Foto Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
“MY hele lewe was in daardie tas” sê Christo van der Bergh, proku-reur van Oudtshoorn, oor sy aktetas wat hy verlede Donderdagoggend in die donker op die sypaadjie voor sy huis vergeet het.
Van der Bergh sê hy was die oggend vroeg op pad Kaapstad toe. Hy moes 10:00 by ’n advokaat in die stad wees vir ’n saak, en daarvoor het hy sy tas benodig.
“Ons het die oggend 06:00 ver-trek toe dit buite nog donker was. My selfoon het net anderkant Ca-litzdorp gelui.”
Volgens Van der Bergh was dit die Oudtshoorn Polisie. Hulle wou weet of “die Van der Berghs tuis was”, want dit het gelyk asof iemand by hulle probeer inbreek het aangesien daar ’n tas voor hul huis staan.
Van der Bergh het besef dit is sy aktetas wat hy voor sy huis vergeet het. Alles wat hy die dag in Kaapstad nodig gehad het, sy lêers, iPad en skootrekenaar, was daarin. Hy het dié tas per ongeluk in die donker op die sypaadjie gelos toe hy vertrek het.
“Ek het dadelik omgedraai en teruggery Oudtshoorn toe. Sowat 25 km duskant Oudtshoorn het ’n voertuig sy ligte vir ons geflits. En sowaar, daar staan ’n polisieman met my tas in die hand!”
Van der Bergh sê hy was danksy die hulp van adj Werner du Plessis en konst Nigel Muller van die Oudtshoorn Polisie se honde-eenheid, wat die tas gevind en vir hom gebring het, steeds betyds vir sy afspraak in Kaapstad!
Hy en sy vrou, Jolette, wat die oggend saam met hom gery het, het die Oudtshoorn Polisie bedank vir hul hulpvaardigheid, hul moeite en die uitstekende diens wat hulle gelewer het!