Vier vas vir klippies

Die Oudtshoorn Polisie deursoek Dinsdag ‘n motor op die parkeerterrein voor die Queen’s Mall. Vier mans is tydens en ná die deursoeking van die voertuig deur die Polisie in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn in verband met die verbod op die handel in ongeslypte diamante. Foto’s:  Angelique Erasmus

Deur Liesel le Roux
VIER mans, een van hulle na bewering ’n hotelbestuurder van Mosselbaai, is Dinsdagoggend net voor 13:00 op die parkeer­terrein van die Queen’s Mall op Oudts­hoorn in hegtenis geneem vir die besit van ongeslypte diamante.

Hulle het gister in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op ’n klagte van die oortreding van die verbod op handel in ongeslypte diamante.

Volgens kapt Louis Visser, woord­voerder van die Oudtshoorn Polisie, is twee ongeslypte diamante in hul besit gevind.

Van die mans het na bewering die oggend vanaf Mosselbaai na Oudtshoorn gereis.

Hulle is die een na die ander op die parkeerterrein onder­vra terwyl die polisie ’n motor deursoek het.

Die motor is glo deur een van die mans by iemand wat hy geken het, geleen.

• Die saak teen die vier mans, Martin Bota (31), Fefe Mangcotywa (33), Moe­ketsi Matjoba (31) en Jagdeep Singh Multani (28), is gister na volgende Maandag uitgestel vir die verkryging van hul misdaadprofiele.

Volgens hulle regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, sal hulle Maandag aansoek doen om borg.

Hulle bly intussen in hegtenis.