Opposisie stem teen begroting tydens lawaaierige vergadering
Deur Garnett Wicomb
INWONERS van Oudtshoorn, De Rust en Dysselsdorp gaan van 1 Julie af tot 11% meer vir water betaal.
Die 2018/19-begroting en Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) van Oudtshoorn is verlede Donderdag tydens ’n rumoerige spesiale raadsvergadering met die teenstem van die ANC, Icosa en Sarco goedgekeur.
Die speaker, Julia Krowitz-Le Roux, het haar hande tydens die debattering van die begroting vol gehad om orde te handaaf. Sy het meer as een keer gedreig om van die raadslede uit te sit, maar dit het nooit gebeur nie. Sy moes ook lede van die publiek – wat erg ontwrigtend was tydens die bespreking – waarsku om nie aan die debat deel te neem nie.
Eiendomsbelasting sal met 7,2% styg, elektrisiteitstariewe met byna 7%, watertariewe met tussen 6,2% en 11,2%, en riool met 8%.
Colan Sylvester, Oudtshoorn se burgemeester, het in sy begrotingstoespraak gesê dat hoewel die raad se finansiële posisie die afgelope twee jaar verbeter het, die raad steeds ’n oog moet hou op die kontantvloei om seker te maak dat operasionele verpligtinge binne die voorgeskrewe wetlike raamwek nagekom word.
• Die munisipaliteit se kontantvloeiposisie het die afgelope twee jaar van ’n tekort van sowat R110 miljoen verbeter tot ’n positiewe kontantvloei van R94 miljoen teen einde April 2018.
• Krediteure het van R90 miljoen in November 2015 verminder tot R5 miljoen.
• Skuldinvordering het van 86% in 2016 toegeneem tot 96%, maar verteenwoordig steeds ’n onder-invordering van R12 miljoen vir die huidige boekjaar.
Sylvester het die begroting as “die beste in jare” bestempel.
“Ons wil beter dienste lewer en die skade wat oor die oor die afgelope paar jare berokken is, regmaak.”
Vlancio Donson van Icosa het gesê die begroting is onvolledig omdat dit nie die beleide van die raad insluit nie.
“Icosa ondersteun nie die begroting nie omdat dit nie die behoeftes van die arm mense aanspreek nie,” het Donson gesê.
Volgens hom word te min gedoen om deernishuishoudings te help.
Hy het ook gevra vir meer werkskepping deur die munisipaliteit omdat werkloosheid in die dorp toeneem.
Die ANC het by monde van raadslid Henry Tyatya ook die begroting teengestaan
“Die begroting doen niks vir die arm mense van die dorp nie,” het hy gesê.
Paaie, sanitasie, waterinfrastruktuur, ens kry hupstoot
Die operasionale begroting beloop net meer as R646 miljoen, sowat 6,79% meer as die vorige jaar en die kapitale begroting
R55,94 miljoen, waarvan R44,94 miljoen van die nasionale en provinsiale regering kom.
Van die hoogtepunte in die begroting is onder meer R27,95 miljoen vir die opknapping van water-infrastruktuur, R4,36 miljoen vir elektrisiteit, R2,7 miljoen vir sanitasie, R2,37 miljoen vir vullisverwydering, R4,5 miljoen vir padinfrastruktuur, R6,21 miljoen vir die opknapping van sport- en rekreasiefasiliteite, R1 miljoen vir gemeenskapsprojekte en R6,86 miljoen vir ander projekte.
Die burgemeester het ten slotte alle raadslede, wykskomiteelede, die gemeenskap, besigheidsektor, die landbougemeenskap en alle ander rolspelers wat deelgeneem het aan die begroting- en GOP-prosesse vir hul waardevolle bydrae bedank.
Vrae oor kworum en beleidsdokumente
Die Hoorn het navrae aan die munisipaliteit gerig oor Donson se opmerking oor die beleidsdokumente, asook oor vrae van die ANC of daar ’n kworum was toe die begroting goedgekeur is.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, was daar ’n kworum.
“Die totale aantal raadslede vir Oudtshoorn is 25 en ’n kworum onder normale omstandighede, indien almal teenwoordig is, is dus 13 raadslede. Daar was op 31 Mei 2018 toe die begroting goedgekeur was, een vakature en twee raadslede was afwesig met verskoning. Daar was dus 21 raadslede teenwoordig in die raad toe die begroting hanteer was. 50% van 21 raadslede is 11. Die kworum vir die vergadering was dus 11 met 12 raadslede wat die begroting goedgekeur het.”
Mangqwengqwe sê die beleidsdokumente wat deel uitmaak van die begroting is in Maart saam met die konsep-begrotingsdokumente aan alle raadslede ge-stuur, waarna ’n werks-winkel gehou is om wysigings aan te bring voor die finale goedkeuring van die begroting. Volgens hom dui Artikel 24 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet aan watter dokumente aangeheg moet word en word die beleidsdokumente nie vereis nie. Artikel 17 vereis wel dat wysigings aangedui moet word. “Die wysigings van die beleidstukke was ingesluit in die begrotingsdokument.”
“Die raad het dus wel aan die nodige wetlike voorskrifte voldoen en is dit nie nodig om minister Bredell te nader om ’n tussentydse begroting goed te keur nie.”