Lekker kuier, lekker eet, lekker wyn en lekker vermaak – dit is die belofte van ook vanjaar se Calitzdorp Winterfees wat die naweek op die dorp plaasvind. Die foto is tydens ’n vorige Winterfees by Boplaas geneem. Foto: Schalk le Roux
Calitzdorp Winterfees: 14 tot 16 Junie
ALLE paaie deur die Suid-Kaap en die Klein Karoo lei die naweek na Calitzdorp waar die Calitzdorp Winterfees van Vrydag tot Sondag plaasvind.
Voornemende feesgangers kan maar hul planne vir die naweek gereed kry – heerlike sonskynweer word vir die naweek op Calitzdorp verwag waar baie besoekers by die dorp se wynkelders, op die feesterrein by die Calitzdorp Stasie en by ander aktiwiteite op die dorp verwag word.
By die Calitzdorp Stasie wag ’n vol program op feesgangers met verskeie kunstenaars wat daar optree, talle leefstyl- en kosstalletjies en ’n ten volle gelisensieerde stasiekroeg.
Feestoegang na die pragtige Calitzdorp Stasieterrein vir die Saterdag én die Sondag kos slegs R20. Dit sluit ’n armband as bewys van betaling, ’n feesprogram en kaart van die dorp in. Kaartjies sal Saterdag vanaf 09:00 beskikbaar wees by die stasie, by wynkelders, die NG Kerksaal en Die Dorpshuis.