Bloupunt se storie ver van klaar vertel

Toe Oudtshoorn nog aan die slaap was, was daar al opstande in Bloupunt oor grond en gedwonge verskuiwings… Poem Mooney skryf vandeesmaand oor Bloupunt

Ek hou van ’n goeie storie. Ek verpes ’n storie wat uit die duim gesuig is. Leuens en skinderpraatjies haat ek.

Ek skryf graag gedigte, veral verha­lende gedigte, want gedigte is dikwels (kom ons sê maar) verhalende voortbrengsels in versmaat, met of sonder rym.

Vandag wil ek die storie van Bloupunt vertel. Die storie wil ek vertel sonder benadeling van regte.
Toe Oudtshoorn nog aan die slaap was, was daar al opstande in Bloupunt oor grond en ge­dwonge verskuiwings.

Daar word vandag nog smartlike verhale vertel oor die opstande van daardie turbulente tye op Bloupunt.
Ek het ’n hele aantal foto’s oor die versande fondasies en bousels van die huise wat voorheen behoort het aan bekende vriende en mense wat daar gewoon het.

Daar is ook talle koerantuitknipsels en foto’s oor die begraafplaas met grafte van die oud-inwoners.
Daar is nog baie stories wat leef in die harte van mense.

Bo en behalwe die nuusberigte van weleer, so glo ek, is daar ook uittreksels uit hofstukke.
Baie prominente leiers is opgesluit en menige oud-inwoners het nooit berading ontvang vir die sielkundige letsels wat hulle moes verduur nie.

Ek was verlede Saterdag by die begrafnis van Juffrou Rachel Getrude Rossouw. Sy was ’n merkwaardige vrou. ’n Vrou wat gebore is op 28 September 1934.

’n Vrou wat te midde van die storm­agtige gebeure te Bloupunt deel was van ’n stryd wat vandag nog ’n nadelige uitwerking het op die nasate van ’n eens rustige gemeenskap.

Oor hierdie nedersetting op die walle van die Olifantsrivier het ek die gedig Bloupunt geskryf.
Hieronder volg ’n paar uittreksels uit die gedig:

Die peper- en die bloekombome
handspeel teen die elemente, wat
halfhartig weggekeer word, deur
stormbrekers, kaktusgeraamtes, doringbome
en ’n groot verskeidenheid, hardegat
Klein Karoo struikgewasse
’n lee dam
die gewel van ’n huis
’n vinger iets of iemand wil beskuldig
die halwe huis
’n stukkie simboliek, wat
hardop uitroep
’n ongesproke vloek laat rus
oor toegegroeide erwe, waar hanslammers,
astrante boerbokke en varke,
voorbarige hoenderkuikens eens gewei,
geskrop en rongefladder het –
het nou nog niks in plek geval.

wat het geword van die huise
die mense, kinders, skool
die kerke, groentetuine, vrugtebome
granaatheinings koringlande?

Kan ons die burgeropstande
van Bloupunt se mense
sommerso vergeet?

Ek onthou die vuur en passie waarmee Antie Rachel Pêrel, saam met Ant Susan Afrika en ander hoofrolspelers by die KKNK langs die Grobbelaarsrivier – Brett Pyper, Valmont Layne, Manfred Zille, Poem Mooney, Jeremy van Wyk en Angeline Le Kay en ander oud Bloupunters – hier­die roerende stories oor gedwonge verskuiwings uit Bloupunt vertel het.

Dit was ’n groot begrafnis op Saterdag 8 Junie 2019. Aanvanklik was die lug toegetrek. Ek het met die Rooiheuwelpad gery Dysselsdorp toe. Was glad nie lus vir die stop and go nie.

Die dag het mooi uitgedraai. Die mense het in groot getalle aangekom om die laaste eer te bewys.
In die begraafplaas het ek oor die skare heen gekyk, die pragtige berge in die Klein Karoo. die spirituele getuies van ’n merkwaardige vrou.

• Addendum:
Die storie van Blou­punt is nog lank nie klaar vertel nie: Tans (en dit sê ek sonder benade­ling van regte en ek vertel die storie soos ek dit gekry het) lyk dit vir my word grond in daardie omgewing – net soos in De Hoek, Warmbad, Rietfontein en Calitzdorp – aan buitelanders verkoop. Is dit kwaadwillige gerugte of is dit ’n geval van Horen zeggen liegt men veel?