Vullisverwydering herstel • Wagte aangestel
Deur Liesel le Roux
SEKURITEIT by die stortingsterrein op Oudtshoorn is vandeesweek verskerp nadat munisipale skoonmaakwerkers en die bestuurders van die vullistrokke verlede week met skerp voorwerpe en klippe aangeval is terwyl hulle vullis wou aflaai.
Vullisverwydering op die dorp is verlede Woensdag na dié aanvalle en as gevolg van dreigemente en intimidasie tydelik opgeskort, maar vandeesweek weer ten volle herstel.
Veral dele van Wesbank-Suid is verlede week deur die gebrek aan vullisverwydering geraak.
“Ons het geen ander keuse gehad as om die diens tydelik te staak nie. Ons personeel is met skerp voorwerpe gedreig en met klippe geslaan,” sê Thomas Matthee, direkteur van gemeenskapsdienste. “Dit het angs en paniek by werkers veroorsaak. Party moes selfs hul lewens waag om op en van bewegende trokke te spring.”
Matthee sê hy verneem van die dorp se inwoners is ook deur die geweld en intimidasie by die stortingsterrein geraak.
Volgens Allen Paulse, munisipale bestuurder, is sekuriteit by die stortingsterrein intussen versterk deur die aanstelling van sekuriteitswagte by die ingang, terwyl die polisie ook betrokke geraak het.
Hy het inwoners versoek om die stortingsterrein (ook bekend as die Tiep) ter wille van hul eie veiligheid voortaan slegs tussen die volgende ure te besoek: Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 17:00 en Saterdae vanaf 08:00 tot 14:00. Die stortingsterrein is Sondae gesluit.
Die tye geld ook vir openbare vakansiedae.
“Toegang na die Grootkop Vullisterrein buite hierdie ure geskied op eie risiko en word nie aanbeveel nie,” sê Paulse.