Stoomtrein en toringhoë hotel vir dorp

‘Nie net drome nie’

Deur Liesel le Roux
STEL jou dié prentjie voor: ’n regte outydse stoomtrein vol toe­riste vanaf die Tuinroete stoom Oudtshoorn binne. Die trein stop nie by die Oudts­hoorn Stasie nie, maar kom op die spoor langs die Klein Karoo Ostrich Emporium tot stilstand.

Die passasiers klim uit, gereed vir ’n dag of meer om Oudtshoorn se talle besienswaardighede te gaan besigtig.

En dan trek nog iets die aandag. ’n Toringhoë boetiekhotel net langs die Emporium, met die ou graansilo’s wat geïntegreer is by die hotel.

Hierdie is nie net ’n droom van die Klein Karoo Groep, eienaars van die Emporium en die omlig­gende geboue nie, naar iets wat binne die afsienbare toekoms behoort te realiseer, sê Johann Schoeman, uitvoerende hoof van die groep.

Daar word groot gedink oor moontlikhede by die Emporium. Schoeman het verlede Donder­dagaand by die Algemene Jaarvergadering van Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) meer vertel oor hul visie vir die Bokomo-gebouekompleks op die hoek van Langenhovenweg en Rademeyerstraat wat hulle sowat vier jaar gelede gekoop het.

“Ons het aanvanklik daaraan gedink om dit as stoorplek te gebruik, maar met die tyd het dié idee verander en het daar baie nuwe voorstelle gekom. Ons wil hier fokus op die volstruisbedryf.”

Die gedagte aan ’n stoomtrein wat tussen Har­tenbos en Oudtshoorn loop, het sy ont­staan te dan­ke aan ’n spoorlyn wat tot reg langs Beans about Coffee by die Emporium loop. Dié spoorlyn is volgens Schoeman nog in ’n goeie toestand, terwyl ’n konsessie reeds toege­staan is vir ’n stoom­trein.

“Die gedagte is in hierdie stadium dat passasiers van die Emporium af per taxi na toerismeplekke soos die Kango Grotte, Arbeidsgenot en die volstruisplase geneem kan word en dalk ook op Oudts­ hoorn kan oornag.”

Schoeman sê daar is ook al ver gevorder met ’n inisiatief om die hoë gebou langs die Emporium te omskep in ’n boetiekhotel en dat gesprekke met ’n span argitekte gevoer word. Die graansilo’s sal ingesluit word by die ontwerp van so ’n hotel.

“Ons glo dié hotel met die graansilo’s as deel daarvan sal ’n eerste in die wêreld wees.”

• Schoeman sê daar is nog talle ander planne ook rondom die Emporium. Daar word ondersoek ingestel om ’n mini-museum met geskiedkundige items van ’n plaas in die omgewing daar te vestig en ook ’n water-standbeeld van elders op die dorp darheen te verskuif.

• ’n Reeks geskiedkundige plaasimplemente van James Williams van Oudtshoorn word ook reeds daar uitgestal.