Toni Younghusband van Prins Albert het pas teruggekeer van die avontuur van ’n leeftyd: ’n Besoek aan die Svalbard-eilandgroep, net sowat 1 000 km vanaf die Noordpool. Foto: Hilldidge Beer/Facebook
Deur Marlene Malan
IN Prins Albert beteken “woestyn” of “halfwoestyn” vir Toni Younghusband droë grond, klippe, spekbos en karee, skape en volstruise, en die aardse kleure van ’n droë omgewing. Maar die afgelope maand het sy ’n ander soort onherbergsaamheid ontdek – dié van ysblokke en ysberge, bergsuring en die Arktiese wilg, ysbere, takbokke en seeleeus, en die blouwit van ’n gebied waar die son nooit ondergaan nie.
Younghusband, voorheen assistant-redakteur van die tydskrif Femina en saam met haar man, Kevin Jacobs, die afgelope sowat vyf jaar ’n inwoner van Prins Albert, het pas teruggekeer van ’n besoek aan die Svalbard-eilandgroep of Svalbard Archipelago, sowat 1 000 km suid van die Noordpool.
Younghusband en ’n vriendin, die veearts dr Hilldidge Beer, het einde Junie na die Arktiese omgewing gevlieg “omdat dié gebied jare lank op my doen-lys was. Toe Hilldidge toevallig oor so ’n reis begin praat, het ek dadelik ingestem. Ek wou nog altyd dié omgewing beleef vanweë die afgeleënheid, die andersheid, omdat daar so min mense is, omdat dit die natuur op sy suiwerste is”.
Younghusband en Beer het 12 dae hier deurgebring. Hulle het op Longyearbyen, die hoofstad van die Svalbard, geland en van daar af na so ses van die 12 eilande in die groep gevaar. “Die Arktiese Sirkel begin op die 66 grade-breedtelyn en die verste noord wat ons gegaan het was 81 grade, na die eiland Kvitoya. Dis hier waar ons die meeste ysbere gesien het,” vertel Younghusband.
Die toeriste het elke dag hul skip verlaat en op gemotoriseerde rubberbote tussen die fjords deurgevaar of die eiland se strandgebiede besoek. Volgens haar het hulle altesame 22 ysbere gesien, wat babas insluit, en so ook takbokke, Arktiese jakkalse, walrusse, ’n blou walvis en Beluga-walvisse, asook ’n groot verskeidenheid voëls.
Dis nou somer in die Arktiese sirkel, wat temperature van so drie tot ses grade beteken het. “Maar in die winter, soos in
Januarie, daal die temperatuur tot hier by die minus 20 grade.”
Younghusband sê vir haar was die ongelooflikste die son wat nooit ondergaan nie, “daarom het ons saans die boot se blindings en gordyne toegetrek om te kan slaap”.
“Die ys is asemrowend mooi. Van die oudste ysblokke is deurskynend, met skakerings van turkoois en blou, tot die nuutste ys wat spierwit is. Dis ’n plek wat soos ’n towerland lyk.”
Longyearbyen het net sowat 2 000 inwoners – die enigste bewoonde deel van die Svalbard-eilandgroep. “Dit is wat dit alles vir my as natuurliefhebber so mooi maak – min mense, maar ’n oorvloed onbelemmerde natuur.”