Ondersteuning van vliegskool by lughawe
Die Oudtshoorn Aeroklub (OAC) se siening oor die talle verwikkelinge by die lughawe oor die laaste aantal jare moet vir ’n verandering weer formeel openbaar gemaak word. Daar is net eenvoudig te veel vals en soms geniepsige fopnuus (vir watter redes ook al) asook foutiewe hoorsê-inligting wat die rondte doen in die pers en ander diverse informele sosiale mediagroepies.
Die Oudtshoorn Aeroklub (OAC) is in 2002 deur die destydse munisipaliteit formeel dmv ’n raadsbesluit opdrag gegee om die lughawe namens die munisipaliteit te bestuur, wat die klub heel suksesvol sedertdien doen. Daar is ook ’n formele ooreenkoms in plek wat die verdeling van verantwoordelikhede uiteensit.
Die klub se grondwet is baie duidelik in sy visie vir die lughawe. Dit stel dit duidelik dat dit alle lugvaartverwante aktiwiteite sal bevorder ten bate van die hele Oudtshoorn gemeenskap – wat oa lugvaartbymekaarkomste, brandstofverkope, vlieg- opleiding, infrastruktuurontwikkeling en verbeterde vliegveiligheid insluit.
Die OAC word bestuur deur ’n groep hoogs gekwalifiseerde en ervare professionele persone wat gereeld ook op ander gebiede ’n bydrae tot die gemeenskap maak. Almal is vrywilligers en lugvaartentoesiaste – met geen vergoeding van enige aard vir hulle insette, kundigheid en tyd nie.
Dit is natuurlik baie voordelig vir die munisipaliteit en die lughawe. Aangesien die OAC hierdie poel van kundigheid gratis tot sy beskikking het, is dit in die voordelige situasie waar dit gaandeweg oor die jare ’n aantal substansiële verbeterings en opgraderings aan die fasiliteite en infrastruktuur by die lughawe kon aanbring. Hierby is ’n paar stewige in- vesterings namens die munisipaliteit en die Oudtshoorn-gemeenskap ingesluit – soos die omheining langs Parkweg en die bou van die loods waarin die Air Mercy Service (AMS) se reddingshelikopter tans gehuisves word. (Dit het tot gevolg gehad dat Oudtshoorn nou hulle basis in die Suid-Kaap is.)
Die OAC het mettertyd ’n onthaalarea en klubfasiliteite vir lede bygevoeg en opgegradeer, die hele ge- bou binne opgegradeer, die badkamers totaal vernuwe, die kombuis waar die AIFA-studente middagete kry saam met AIFA heeltemal oorgedoen – en baie belangrik – ’n moderne en veilige brandstofbedienings- fasiliteit waaruit alle tipes lugvaartbrandstof verskaf kan word, aangekoop en in stand gehou.
Sedert AIFA hulle by die lughawe kom vestig het, kon die klub die implementering van sy visie heelwat versnel. Oudtshoorn Lughawe is nou een van die basisse van ’n moderne, wêreldklas-vliegskool met uitstekende fasiliteite en uitmuntende standaarde op alle vlakke. Enige persoon wat enige kennis van vliegskole het, sal saamstem dat AIFA onder die beste van die bestes is.
Hulle teenwoordigheid en kapitaalspandering het ’n onderbenutte, vervallende landelike lughawe verander in ’n behoorlik bestuurde en goed benutte publieke bate vir ons gemeenskap. Dit het ook baie sekondêre voordele tot gevolg gehad – ’n magdom nuwe werksgeleenthede, groot investering in die plaaslike ekonomie en ’n merkbare verhoging in die standaarde en professionalisme waarmee die lughawe nou bestuur word.
Die vliegskool het die OAC in ’n posisie geplaas waar dit self nuwe werk kon skep en die fasiliteite wat dit oor die jare in plek gesit het, kon bekostig en behoorlik instandhou. Die beheertoring wat AIFA opgerig het, dra eindeloos by tot vliegveiligheid en die gemeenskaplike veiligheidsdoelwitte van AIFA en die OAC. Die bedryfsuitgawes van die beheertoring word deur die vliegskool alleen gedra, ten spyte daarvan dat dit aan alle lugverkeer in en uit Oudtshoorn ’n diens verskaf.
Die OAC ondersteun die vliegskool ten volle en ondersteun hulle formaliseringsproses van die vliegtye en gepaardgaande beperkings ten volle en is gedurig in samesprekings oor alle sake van gemeenskaplike belang met die AIFA-bestuur. Ons sal aanhou om aktief met hulle saam te werk mbt hulle inisiatiewe wat hulle na Oudtshoorn en die Wes-Kaap oor die algemeen bring en gebring het. Dit laat die OAC toe om die visie vervat in sy grondwet uit te leef en sodoende dit ’n tasbare werklikheid te maak.
– dr Johan Strasheim, voorsitter: Oudtshoorn Aeroklub
Gemeenskapsdiens: Gemkor antwoord
Kommentaar op die brief van mnr Goliath, Die Hoorn van 19 Julie 2018:
Die hoof van Oudtshoorn Gemeenskapskorreksies (Gemkor) is ten volle bewus van die probleem wat mnr Goliath ondervind met die beskikbaarheid van toesiggevalle om hom met die instandhouding van die kerk se gronde te help.
Die betrokke toesiggevalle wat aan die kerk, waarvan mnr Goliath ’n lidmaat is, toegewys was, het kort nadat hulle met hul gemeenskapsdiens begin het, werksgeleenthede bekom waarmee hul ’n inkomste kon verdien. In die lig van beperkte werksgeleenthede in die omgewing waar hulle woonagtig is, is hul gemeenskapsdienstye en instansie gewysig ten einde hulle die geleentheid te bied om ’n inkomste te kan verdien.
Ons moedig juis diegene onder toesig aan om werk te soek en te gaan werk indien die geleentheid hom voordoen. Al is dit slegs tydelike werk, beteken dit ’n inkomste in baie huishoudings waar daar andersins geen inkomste is nie. Dit voorkom ook dat toesiggevalle weer by misdaad betrokke raak, deur byvoorbeeld diefstal te pleeg ten einde seker te maak daar is kos in hul huise.
Die gevalle waarna mnr Goliath verwys, is egter nie vrygestel of gevrywaar van hul gemeenskapsdiens soos wat hy insinueer nie, maar daar word seker gemaak dat hulle hul skofte inwerk tydens projekte wat deur Gemkor in die gemeenskap geïnisieer word.
Alhoewel instansies nie verplig is om kos aan toesiggevalle te voorsien tydens die verrigting van gemeenskapsdiens nie, is dit ook bekend dat die De Rust- en Dysselsdorp-omgewing se werkloosheidsyfers baie hoog is, en dat baie huishoudings onder armoede gebuk gaan, en behoort enige redelike mens begrip te hê vir die feit dat ’n toesiggeval nie ’n dag se arbeid (wat gratis is) kan verrig sonder dat hy iets kry om te eet as daardie persoon nie iets te ete vir hom/ haarself kan voorsien nie.
Elke toesiggeval ontvang ’n stel dokumente tydens opname (op die stelsel van Gemeenskapskorreksies) met betrekking tot hul voorwaardes wat ook die bepalings ten opsigte van gemeenskapsdiens insluit. Die toesiggevalle ter sprake het ook so ’n volledige stel dokumente ontvang waarvoor hulle vir ontvangs geteken en ’n afskrif op hul lêers onderskeidelik geliasseer is.
Die VK Kerk te Blomnek is steeds geregistreer op Oudtshoorn Gemkor se databasis van instansies wat bereid is om toesiggevalle, wat gemeenskapsdiens moet verrig, in diens te neem.
Sodra toesiggevalle opgeneem word wat in die omgewing van die betrokke kerk woonagtig is en beskikbaar is op die spesifieke dae wat hulle deur die kerk benodig word, sal ’n geval(le) dienooreenkomstig aan die kerk toegewys word.
– Johan Pienaar, hoof: kommunikasie, Suid-Kaap Bestuursarea